Saterdag 06 Februarie 2016

God weerspreek Homself nooit

Mishpatim
(Oordele)



Om hierdie oordenking te lees, is om 'n bladsy uit 'n wetboek te lees. Dit sou sekerlik moontlik wees om howe met regters daar te stel, deur slegs te gebruik wat herdie week se lesing bevat. Dit is inderdaad wat God van Sy volk verwag het. Hy wou 'n model-mensdom, binne 'n model-nasie daarstel, wat 'n getuie vir al die ander wêreldnasies aangaande die Een Ware God sou wees.

Deuteronomium / Devarim / {4:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? {4:8} En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?”

Daar is egter 'n wet, geskryf binne die "Oordenking: Oordele" wat oor die jare heen heelwat polemiek veroorsaak het, oor wat skybaar 'n weersprekende gebod blyk te wees, met wat Jesus in die Hernieude Verbond gegee het. Die gedeelte waarna ek in hierdie oordenking verwys, is:

Eksodus / Shemot {21:23} “Maar is daar ‘n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe, {21:24} oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, {21:25} brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.”

Dié gebod word egter verder tweemaal in die Tora: Levitikus {24:20} en Deuteronomium {19:21} herhaal. Hierdie feit op sigself behoort vir ons 'n aanduiding van die belangrikheid daarvan in God se oë, te wees. Talle Bybelstudente vind dit egter moelik om hierdie gebod in ooreenstemming te bring met wat Jesus sê:

Matthéüs / Mattityahu {5:38} “Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. {5:39} Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.”

Ek meen, teneinde behoorlik te verstaan of Jesus weerspreek of verander, aldan nie, wat in die Tora geskrywe is, moet ons die verband van elk van hierdie gedeeltes verstaan.

Die Tora is 'n samestelling van God-gegewe onderrig en gebooie. Soms is hierdie onderrig in verhaalvorm, soos Jona en die groot vis en Josef se ervarings met sy broers. Hierdie verhale en ander soortgelykes, is natuurlik bedoel om belangrike Bybelse beginsels aan ons oor te dra. 'n Ander vorm van onderrig in die Tora, is meer direk, soos wat ons in hierdie oordenking teëkom. Beide onderrig en gebooie is egter vir dieselfde doel aan ons gegee, naamlik om die sondaar te oortuig, by nadenke van sy sondigheid en onvermoë, om te voldoen aan wat die Tora voorhou. (Die Tora tree dus op as leermeester, deur die sondaar te lei om hom na sy verlosser te wend. Wanneer die persoon dan gered is, verander die Tora se gevoelsinhoud en onderrig dan die geredde persoon hoe om te lewe as 'n gelowige, wat verdieping in-en bekleding met die Messias behels. Dit is wat Saulus (Paulus) in Galáte vir ons sê:

Galáte / Galitim {3:24} “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. {3:25} Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie. {3:26} Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; {3:27} want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.”

Dus is die konteks van die gedeelte in ons Tora - oordenking (Eksodus {21:23}), 'n gebod en daarom streng juridies, met ander woorde: pleeg die misdaad, ontvang die straf. In daardie opsig, netsoos in die geval van moord (strafbaar met die dood), as jy iemand se oog uitsteek, word jou oog uitgesteek - die straf is natuurlik eers bepaal ná deeglike ondersoek en 'n behoorlike regsproses.

Deuteronomium / Devarim {19:15} “Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ‘n saak van krag wees.”

Ja, ek neem die misdaad en straf letterlik as God-gegewe. Daar is egter 'n genadiger, meer liberale interpretasie van hierdie gedeelte. Dit is wat God bedoel met 'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand, naamlik dat die straf vir misdaad, na gelang van die aard daarvan moet wees. Dit beteken dat iemand nie die doodstraf moet ontvang omdat iemand se oog uitgesteek is of sy hand afgekap is nie: Die straf moet regverdig wees. Vandag plaas howe en versekeringsmaatskappye 'n geldwaarde op liggaamsdele. Indien jy dus skuldig bevind word aan die uitsteek van iemand se oog is dit "x"-bedrag en vir die afkap van iemand se hand moet jy "y"-bedrag betaal.

Hoe versoenbaar is dít wat Jesus ons in Matthéüs {5:38} hierbo leer? Wel, as ons glo dat Jesus die vleesgeworde (in vleeslike liggaam na die aarde gekom) God is en die Lewende Tora ("In die begin was die Woord en die Woord het vlees geword") en ons glo dat God gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is, dan móét ons glo dat God homself nie weerspreek nie!

Indien ons dus kyk na die konteks en woorde wat Jesus gebruik in Sy onderrig, sien ons duidelik dat die woorde "Julle het gehoor" verwys na die wyse waarop iemand hierdie Tora-beginsel in die tyd van Jesus vertolk het, in teenstelling met wat Hy in die Tora geskryf het. Ons moet egter ook in ag neem wat Jesus voortgegaan het om in Sy onderrig te sê:

Mattityahu {5:39} “Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe. {5:40} En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry. {5:41} En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.”

Dus, met behoorlike begrip van wie Jesus is en dit wat Hy sê, in die regte konteks te neem, kan ons sien dat Hy inderdaad nie Eksodus {21:23} weerspreek nie. Inteendeel, Jesus onderrig oor 'n totaal verskillende onderwerp. Hierdie onderwerp is nie geregtelik nie, soos in Eksodus {21:23} nie, maar leer ons eerder oor die onderwerp van wraak. Ons mag nooit, volgens Jesus, wraak neem nie.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-02-21




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking