BeShalach
(Wanneer Om Te Laat Gaan)
Lewe Met Die Swaard en Sterf Met Die Swaard
Eksodus / Shemot {3:17} “Toe Farao die volk laat trek het, het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was; want God het gesê: Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte. {13:18} Daarom het God die volk laat wegdraai in die rigting na die woestyn, na die Skelfsee toe. En die kinders van Israel het goed gewapend uit Egipteland opgetrek.”
Dit was vir my interessant toe ek in hierdie verse lees dat die kinders van Isarel inderdaad gewapen was met hulle uittog uit Egipte. God sou hulle egter nie naby die Filistyne langs lei nie, ingeval hulle uit vrees vir oorlog, na Egipte sou wou terugkeer. Ek het altyd gemeen dat as jy jouself bewapen, moet jy daarop voorbereid wees om dit te gebruik. In hierdie geval was die kinders van Israel egter bewapen maar nie bereid om te veg nie!
Daar was al heelwat meningsverskil en bespreking oor die feit of gelowiges in Jesus die Messias oor vuurwapens behoort te beskik aldan nie. Vóór my bekering tot die Here, terwyl ek in Florida (‘n staat waar meeste burgers vuurwapens besit) woonagtig was, het ek ook ‘n vuurwapen besit; trouens ek het meer as een besit. Ek het ‘n vuurwapen by my gedra en een in my motor aangehou. Nadat ek gered is, het ek egter van al my vuurwapens ontslae geraak en my veiligheid en sekuriteit aan die Here toevertrou. Met vrymoedigheid kan ek verklaar dat vanaf daardie dag, die Here selfs in hierdie opsig getrou was. Beteken dit dus dat gelowiges in Jesus die Messias nie ‘n vuurwapen vir selfverdediging moet besit nie? Ek moet erken dat ek nie heeltemal seker is daaroor nie. Daar is soms sulke “gemengde” boodskappe in die Bybel.
Ons is almal bewus daarvan dat God moord hoegenaamd nie goedkeur nie, maar dit is verantwoordelik om te sê dat as jy ‘n vuurwapen besit, jy beslis daarop voorbereid moet wees om dit te gebruik. Dit bring ‘n mens voor ‘n problem te staan: indien jy per ongeluk iemand doodskiet, kan die owerhede dit as moord klassifiseer – ten spyte daarvan dat moord hoegenaamd nie jou bedoeling was nie. God keur egter oorlog goed, wat vanselfsprekend sowel wapens as dood behels. Dan is daar in die Bybel nou weer verse soos hierdie:
Lukas / Uri {22:35} “En Hy sê vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie. 22:36 Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie ‘n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en ‘n swaard koop.”
Klaarblyklik het Jesus die dra van ‘n wapen in vredestyd goedgekeur, met die bedoeling dat dit nie gebruik sou word vir ‘n regering-gesanksioneerde oorlog nie. Soos ons weet, het Petrus (Kefa) op die Olyfberg ‘n wapen gebruik, wat impliseer dat hy die wapen moes besit het. In daardie Skrifverband lees ons:
Mattheüs / Mattitayu {26:52} “Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.”
Hierdie Skrifgedeelte word dikwels aangehaal deur sommige persone wat teen die dra van (vuur)wapens gekant is, maar spreek Jesus Hom werklik daarteen? Ek dink nie so nie. Waarskynlik het Jesus verwys na diegene wat reeds onderweg was om Hom gedwonge met wapens van hul eie gevange te neem. Jesus het hier slegs geprofeteer oor die wyse waarop hierdie persone self sou omkom, welke profesie inderdaad deur die Romeine ten uitvoer gebring is. Hulle het met wapens gekom om die oorhand oor Hom te kry maar hulle sou self deur wapens omkom. Dan is daar egter Skrifgedeeltes soos hierdie een:
Psalms / Tehillim {37:39} “Tau. Maar die hulp van die regverdiges is van die HERE, hulle toevlug in tyd van benoudheid. {37:40} En die HERE help hulle en red hulle; Hy red hulle van die goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.”
Sekerlik sou hierdie Skrifgedeelte en soveel meer soortgelyke verse te kenne gee dat dit nie vir ons nodig is om onsself met wapens te verdedig nie. Ons is egter bewus daarvan dat Dawid, voor en nadat hy koning van Israel geword het, meeste van die Psalms geskryf het wat betrekking op God as ons beskerming, het, maar dat hy nietemin altyd swaar gewapen was.
Wat is dus my gevolgtrekking en antwoord op die vraag of gelowiges in Jesus die Messias gewapen moet wees aldan nie? Dit skyn asof daar geen klinkklare Skriftelike bewys is wat die dra van wapens verbied nie, maar laat ons onthou dat indien jy ‘n wapen dra, moet jy gereed en bereid wees om dit te gebruik indien nodig. Andersins mag dit met jou soos met Petrus, ‘n visserman, die geval wees, wat Jesus met ‘n swaard probeer verdedig het toe hy na alle waarskynlikheid die hoëpriester se slaaf probeer onthoof het, maar slegs daarin geslaag het om sy oor af te kap. Sou Jesus nie dáár gewees het om tot sy redding te kom nie, het Petrus gevaargeloop om self onthoof te word.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2011-01-15
x
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking