Saterdag 13 Januarie 2018

God Maak Nie Foute Nie / Die Keuse Berus By Ons

VaEra
(En Ek Het Verskyn)



Eksodus / Shemot {9:17} “Versit jy jou nog teen my volk, dat jy hulle nie wil laat trek nie? {9:18}  Kyk, Ek sal môre omtrent sulke tyd ‘n baie swaar hael laat reën soos wat in Egipte nie gewees het van die dag af dat dit gegrond is tot nou toe nie. {9:19}  Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word, en wat nie binnekant gebring is nie—op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe. {9:20}  Hy wat die HERE se woord gevrees het onder die dienaars van Farao, het sy slawe en sy vee in die huise laat vlug; {9:21}  maar hy wat op die HERE se woord geen ag gegee het nie, het sy slawe en sy vee in die veld laat bly.”

God het die Farao en Egiptenare vroegtydig gewaarsku vóór elk van die plae wat Hy oor hulle land gebring het. Hierdie is egter die enigste plaag waar Hy die mense vooraf waarsku en hulle bevel om hul vee in veiligheid te bring. Dit is ook die enigste plaag waar Hy die mense waarsku om nie na buite te gaan indien hulle nie wil sterf nie. Volgens ons rabbynse wysgere, was die haelstene geweldig groot; trouens, om die lewe van ‘n vier – tot seshonderd-pond koei te bedreig, moes dit inderdaad groot gewees het. Volgens die Skrif, het waarskynlik nie almal in Egipte op God se waarskuwing ag geslaan nie, behalwe ‘n geringe aantal van diegene wat reeds die voorafgaande plae belewe het en nou die God van Israel gevrees het. Dit was die enigstes wat dié waarskuwing gehoorsaam het. Wat was dus die gevolg van ongehoorsaamheid en om nie God se waarskuwing ernstig op te neem nie? Hulle asook hulle vee het omgekom en dit was nie God wat vir hul dood aanspreeklik was nie – dit was hulle eie keuse.

In die hedendaagse Israel is dieselfde maatreël toegepas om die inwoners van Gaza te waarsku om sekere tye, tydens die laaste Gaza-oorlog, binnenshuis te bly. Hul verontagsaming van die waarskuwings, sou, soos aan hulle gesê is, hulle in gevaar stel en moontlik tot hul dood lei. Pamflette is versprei waardeur inwoners in bepaalde areas en woonbuurte gewaarsku is dat die Israeli-Verdedigingsmag van voornemens was om dáár militêre operasies uit te voer. Die verdedigingsmag was dus nie aanspreeklik vir die dood van daardie burgerlikes wat nie op die waarskuwing ag geslaan het nie – die keuse was hulle s’n. Israel het sy eie troepe in gevaar gestel om hierdie waarskuwings uit te reik – dit was dus die korrekte optrede.

Deuteronomium / Devarim {28:1} “As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. {28:2}  En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. {28:15}  Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. {28:20}  Die HERE sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het.”

Net soos die Egiptenare moes besluit om God se waarskuwings te gehoorsaam – aldan nie – en sowel hulle lewens as dié van hul vee te red, net so moes die inwoners van Gaza-stad besluit of hulle aan die waarskuwings van die Israeli-Verdedigingsmag sou gehoor gee en in hul huise bly; eweneens moet ons ook besluit of ons God se waarskuwing gaan gehoorsaam. God het ons in Sy Woord – hierbo aangehaal – gewaarsku, deur aan ons die gevolge van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan Sy gebooie, uiteen te sit. Dit is dus nou vir óns om te besluit wat ons gaan doen! God sal nie aanspreeklik wees indien ons die verkeerde besluit neem nie: die keuse berus by ons.

Daar is ‘n kritieke vermaning in die Skrif, wat ek ten slotte met julle wil deel: dit is ‘n waarskuwing waarop ons almal moet agslaan en dit gehoorsaam. Ek glo dat dit die finale waarskuwing deur God is:

Johannes / Yochanan {14:6} “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

1 Johannes / Yochanan Aleph {2:23} “Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie.”

Noudat julle hierdie vermaning het, wat gaan julle daaromtrent doen? Die keuse berus by julle.

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2011-01-01

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking