Saterdag 17 Februarie 2018

Ek Bevraagteken Hulle Motiewe

Terumah
(Offerande)


Eksodus / Shemot {25:1} “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2}  Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. {25:3}  En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; {25:4} en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; {25:5} en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; {25:6} olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; {25:7} oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. {25:8}  Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9}  Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak.“

Soos ons deur vandeesweek se Parasha verder lees, verneem ons dat God die kinders van Israel versoek het om goud, silwer, edel- en halfedelgesteentes asook fyn linne in die konstruksie van die tabernakel (Mishkan) te gebruik. Hoeveel goud, silwer en edelgesteentes vermoed julle is gebruik in die konstruksie en wat sou dit vandag nie werd gewees het nie - een miljoen-, twee miljoen-, vyf miljoen-, vyftig miljoen-, eenhonderd miljoen dollar? Te oordeel aan die feit dat sowel die goud as silwer as suiwer geklassififiseer is - gemeet aan hedendaagse standaarde, sou dit .9999 persent suiwer gewees het - moes dit sekerlik ‘n fortuin werd gewees het. Op grond van die gehalte wat vir die goud en silwer vereis is, kan ons met sekerheid aanvaar dat die edel- en halfedelgesteentes asook die linne van die hoogste gehalte was. Ek sou dus waag om te skat dat die huidige waarde van hierdie items - die totale dollar-waarde van al dié waardevolle materiale wat gebruik is - beslis nader aan honderd miljoen dollar as die een miljoen dollar sou bedra. Dit is geweldig baie geld om aan ‘n tent te bestee!

Ons het die afgelope paar jaar heelwat duur veranderinge aan ons plek van aanbidding aangebring. Tienduisende dollar het egter daarvoor gesorg om ons heiligdom ‘n pragtige en gerieflike aanbiddingsplek vir ons gemeentelede te verseker. Binnekort sal ons bykans tienduisend dollar aan die opgradering van ons klankstelsel moet bestee. Ons het onlangs vyf-en-dertig duisend dollar aan ons begraafplaas (die enigste Messiaanse Joodse begraafplaas in Kanada) bestee - dit bo en behalwe die kombuis! Ons is natuurlik gekritiseer daaroor. Die kritici was van mening dat hierdie uitgawes eerder ten behoewe van behoeftiges en minderbevoorregtes aangewend moes word. Kritici het egter nog altyd die armes as verskoning aangevoer en ofskoon dit nie in die Skrif aangeteken is nie, is ek oortuig daarvan dat Moses dieselfde soort kritiek moes verduur het! Ek stel egter die vraag: Dink julle dat God geweet het dat daar behoeftiges onder die kinders van Israel was en daar altyd hulpbehoewendes sóú wees, toe hy Moses beveel het om ‘n multi-miljoen dollar tent te bou?

Om dieselfde rede, hoeveel armes sou gevoed kon word teen die prys van die Sistynse Kapel in Rome of die Notre Dame-katedraal in Frankryk of die ganse Vatikaan in Rome? Indien elkeen die houding van “Wat van die armes” sou ingeneem het, sou meeste van die groot kunswerke deur die eeue nooit geskep gewees het nie. Daar sou geen Sistynse Kapel gewees het vir Da Vinci om te beskilder nie; trouens, daar sou ‘n geweldige leemte in die kunswêreld bestaan het!

Mag God my daarvan bewaar om die belangrikheid van hulpverlening aan die armes gering te ag! Ons hier by Melech Yisrael ondersteun ‘n bediening aan huisloses. Ons sorg vir die kleding, voeding en bediening aan armes op die strate van Toronto. Ons beskik oor ‘n voedsel-”spens” gevul met nie-bederfbare kossoorte wat oop en beskikbaar is vir enigeen in nood. Ons het ‘n gevangenis-bediening waar ons gevangenes onderrig en bemoedig. Daarbenewens beskik ons oor ‘n besoekingsbediening wat behels dat ons die wonings van siekes besoek, maaltye veskaf, vir hulle bid en bemoedig. Ons het ook ‘n liefdadigheidsfonds waardeur ons aan ons gemeentelede in finansiële nood, geldelike bystand verleen. Ek is oortuig daarvan dat vele van hierdie bedieningstipes ook onder die kinders van Israel in die wildernis bestaan het - selfs terwyl hulle besig was om die goud-, silwer- en edelgesteente-belaaide tent te bou.

Johannes / Yochanan {12:3} “En Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf. {12:4}  Toe sê een van sy dissipels, Judas Iskáriot, die seun van Simon, wat Hom sou verraai: {12:5}  Waarom is hierdie salf nie vir drie honderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie? {12:6}  En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy ‘n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het. {12:7}  Toe sê Jesus: Laat haar staan; sy het dit bewaar vir die dag van my begrafnis. {12:8}  Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie.”

Net soos wat Jesus gedoen het, bevraagteken ek ook soms die motiewe van diegene wat ons uitgawes tot eer van God kritiseer! 
Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-02-05

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking