KiTisa
(Wanneer Jy Verhef)
Eksodus {30:22} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {30:23} En jy, neem vir jou van die beste speserye: vyf honderd sikkels fyn mirre en die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig sikkels, en twee honderd en vyftig sikkels geurige kalmoes {30:24} en vyf honderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die heiligdom, en ‘n hin olyfolie; {30:25} en maak daarvan heilige salfolie, ‘n salfmengsel soos ‘n salfmenger dit maak; heilige salfolie moet dit wees. {30:26} Daarmee moet jy dan die tent van samekoms salf en die ark van die Getuienis {30:27} en die tafel met al sy gereedskap en die kandelaar met sy gereedskap en die reukaltaar {30:28} en die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die waskom met sy voetstuk. {30:29} So moet jy hulle dan heilig, dat hulle hoogheilig kan wees. Elkeen wat aan hulle raak, word heilig. {30:30} Jy moet ook Aäron en sy seuns salf en hulle heilig om vir My die priesteramp te bedien. {30:31} En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: Dit moet vir My ‘n heilige salfolie wees in julle geslagte. {30:32} Op geen mens se liggaam mag dit uitgegiet word nie; julle mag ook, na dieselfde voorskrif, so iets nie maak nie: heilig is dit; heilig moet dit vir julle wees. {30:33} Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ‘n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.”
God wou nie dat iemand die salfolie, wat deur die priesters gebruik is, reproduseer nie. Die voorgeskrewe formule daarvan was vir hulle uitsluitlike gebruik in hulle diens voor Hom. God was so onversetlik hieroor dat ongehoorsaamheid hieraan die straf van uitroeing uit Sy volk (met ander woorde ekskommunikasie of steniging) sou behels. Die vraag is nou: Ongetwyfeld ken God ons deur-en-deur en besef Hy dat ons in die versoeking kan kom om die olie te reproduseer, indien ons geweet het hoedat dit gemaak moes word. Waarom sou hy dit gedoen het? Eerstens, die feit dat die formule neergeskryf is, weerlê die bestaan van ‘n Mondelinge Tora. Indien God slegs verlang het dat die salfolie vir die uitsluitlike gebruik deur die priesters moes wees en as daar so ’n iets soos ‘n Mondelinge Tora bestaan het, dan sou God dit slegs mondeling aan Moses oorgedra het en hom dit nie laat neerskryf nie! Die formule sou dan deur die eeue mondeling deur die priesters oorgedra word ten einde hoofsaaklik te verseker dat dit nooit nagemaak word nie. Dit is egter nie die geval nie. Hier is die formule duidelik neergeskryf vir enigeen om dit te vervaardig – soos wat ‘n resep vandag vryelik uit ‘n tydskrif afgeskryf kan word.
Hierdie feit maak my baie skepties oor die bestaan van ‘n Mondelinge Tora. Ek impliseer egter hoegenaamd nie dat die versameling van wat vandag as die Talmud bekendstaan, bedrieglik of oneg is nie. Die Talmud bevat baie goeie en bruikbare inligting vir die gelowige in Jesus die Messias. Die grootste daarvan is egter nie eg nie, verwarrend en in sommige gevalle irrasionele gosdienstige tradisies – die tipe waarteen Jesus die Messias gepreek het. Dit is dus my mening dat die Talmud nie as ‘n waardevolle bron vir gelowiges in Jesus die Messias sou dien nie.
Ons weet ook - aldus die profeet Eségiël – dat ‘n volle funksionerende tempel gedurende die duisendjarige Ryk (die Messias-ryk) gebou sal word. Die salfolie as sulks sal dus weer nodig wees vir die priesters om in die tempel te mag dien. Aangesien iets soos ‘n Mondelinge Tora nie bestaan het nie, het God sekergemaak dat die formule deur Moses neergeskryf word vir die gebruik deur toekomstige geslagte priesters, terwyl die reproduksie daarvan vir enige ander doel verbied is. Die Bybel bevat ‘n kategorie ordinansies, wat “chukkim” genoem word. Chukkim is bonatuurlike beginsels. Dit is Goddelike dekrete, waarvoor die menslike verstand nie by magte is om ‘n rede vir die bestaan daarvan te verstrek nie. Chukkim gaan die menslike verstand en begrip daarvan geheel-en-al te bowe. As gevolg hiervan, oor die kwessie van gehoorsaamheid, verpersoonlik gehoorsaamheid aan die chukkim, die allerbeste en suiwerste weg van aansluiting by God. Dus, onbelemmer deur die beperkinge van die menslike verstand, word hierdie ordinansies vir één rede en één rede alleenlik toegepas: omdat God so gespreek het! ‘n Voorbeeld hiervan is die Kosher (kosher beteken behoorlike of regmatige) – voedselvereistes. Die onthouding van sekere voedselsoorte soos varkvleis of kreef, maak nie sin nie aangesien dit deur ander kulture geëet word, met oënskynlik geen of geringe nadelige gevolge. Toegewyde gelowiges egter, wat die kosher-wette onderhou, kom dit streng na omdat God so gesê het – streng op grond van gehoorsaamheid.
Net soos God die eet van nie-kosher-voedsel verbied het, het Hy ook die namaak van die salfolie-formule, uitsluitlik bedoel vir die gebruik deur die priesters, verbied. Hierdie ordinansie ressorteer dus onder die kategorie van die chukkim. Diegene wat hierdie ordinansies eerbiedig, sal baat deur hulle gehoorsaamheid net soos iemand wat slegs kosher-voedsel eet.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2012-03-04
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking