Saterdag 09 Februarie 2019

My Korban / My Offergawe

Terumah
(Offerande)


Eksodus / Shemot {25:1} “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2}  Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. {25:3}  En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; {25:4}  en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; {25:5}  en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; {25:6}  olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; {25:7}  oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. {25:8}  Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9}  Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak ”

Toe ek vandeesweek se Torah deurgelees het, is my aandag op veral twee sake gevestig, wat ek albei graag wil bespreek.

Gedurende my sestein jaar as leier van ‘n gemeente, het ek baie dinge in die bediening sien gebeur. Die meeste wat ek ervaar het, was aangenaam, opheffend en ‘n ware seën. Daar was egter ook tye van teleurstelling, droefheid en seerkry.

In ons Skrifverwysing hierbo, spreek God soos volg:

Eksodus / Shemot {25:2} ”Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring.“

Wat is hier so belangrik? Die feit dat die verwysing na die offergawe verander van ‘n korban (offergawe) na die verwysing as “My korban”. Ongelukkig is een van die wyses waardeur gemeentelede hulle ontevredenheid met die leierskap in hul gemeente laat bly, om hulle tiendes te weerhou. Skynbaar meen hulle dat dit húlle manier is om die leierskap te vergeld vir wat vermoedelik aan hulle gesê of gedoen is. Dit is natuurlik ‘n uiters betreurenswaardige powere en onbybelse optrede om so ontevredenheid met die leierskap te toon. Dit is juis dit wat God in ons Skrifgedeeltes aan Moses meedeel.

‘n Offergawe word ‘n offergawe aan God, sodra dit uit ons hande gaan. Ons gawe is nie vir die gemeente se leierskap nie – selfs nie eers vir die gemeente nie – maar aan God. Dit word geensins van ons verwag om dit vir die leierskap of die gemeente waaraan ons behoort, te gee nie; ons word egter verplig om dit aan God te skenk. Tiendes is ‘n offergawe aan God! Offergawes vir besondere projekte binne gemeenteverband, is egter heeltemal iets anders. Deur spesiale offergawe, skenk jy bykomend, bo-en-behalwe jou gereelde tiende aan God, vir ‘n spesifieke projek of behoefte. Indien jy so voel, kan jy sodanige offergawes weerhou, ofskoon dit ook onbybels is, veral as die spesiale offergawe vir behoeftiges bedoel is, maar hoegenaamd nie wat die gereelde tiendes betref nie. Tiendes is ‘n korban uitsluitlik vir God. Hoe Hy dit aanwend, sal in Sy algenoegsaamheid geskied. Dit is nie langer in ons nie, omdat “’n” korban nou “my” korban word.

Die tweede aangeleentheid waarop ek jou aandag wil vestig, is die besondere opdragte wat Moses van God ontvang het.

Baie gelowiges wil dinge nog op hulle eie manier doen, ten spyte van die feit dat die Bybel ons leer om aan God algeheel gehoorsaam te wees. Om dinge op ons eie manier te wil doen, bring ons nêrens nie.

So byvoorbeeld het die kleure pers, purperrooi en bloedrooi ‘n spesifieke betekenis. Kan jy jouself dus die geestelike implikasie voorstel, indien Moses sou gesê het: “As julle nie pers linne het nie, sal ons groen linne gebruik. Bring vir my die groen linne.”? Die ganse Evangelisasie boodskap, deur die klere pers, purperrooi en bloedrooi voorgestel, sou verlore gewees het! Jesus sou ook nie vir die reisigers onderweg na Emmaus, die volgende kon gesê het nie:

Lukas / Uri {24:27} “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.”

Bybelse opdragte is met ‘n spesifieke doel uitgereik. Ons mag moontlik nie nou al weet hoedat dit op ons lewens betrekking het nie en as ons lewens ‘n besondere doel het, kan ons dalk die orde van God se planne versteur. 
Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-02-19

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking