Mishpatim
(Oordele)
Om Parasha Mishpatim te lees, is soos om te lees uit die bladsye van ‘n wetboek. Sekerlik sou dit moontlik wees om howe byeen te bring en regters aan te wys deur bloot te gebruik wat in hierdie week se Tora-gedeelte vervat is. Dit is trouens, presies wat God van Sy mense verwag het; vir hulle om ‘n regstelsel, gegrond op die Tora, op te stel. Hy wou hulle model-mense binne ‘n model-nasie maak, wat ‘n getuie vir al die ander nasies van die wêreld sou wees aangaande die Een Ware God en Sy regverdige en billike wette
Deuteronomium {4:7} "Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? {4:8} En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?"
Dit gesê, is daar één wet in Parasha Mishpatim wat oor die jare aansienlike teenstrydigheid veroorsaak het. Dit is ‘n wet wat blyk om ‘n leerstelling wat deur Jesus in die Nuwe Testament (Brit Chadasha) uitgespreek het, te weerspreek. Die omstrede wet, waarna ek verwys, is:
Eksodus {21:23} "Maar is daar ’n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe, {21:24} oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, {21:25} brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek."
Hierdie gebod word weer tweemaal in die Tora herhaal: in Levitikus 24:20 asook in Deuteronomium 19:21. Dié feit op sigself behoort vir ons ‘n aanduiding te wees van die belangrikheid daarvan in die oë van die Here. Baie Bybelse geleerdes vind dit egter moeilik om hierdie leerstelling wat Jesus uitgespreek het, daarmee te versoen:
Matthéüs {5:38} "Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. {5:39} Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe."
Om ten volle te verstaan of Jesus wel, aldan nie, wat in die Tora gesskryf was, weerspreek en om te voorkom dat ons tot enige gevolgtrekkings kom, moet ons elk van hierdie gedeeltes binne konteks, verstaan.
Die Tora is ‘n samestelling van onderrig en gebooie, wat die Here aan ons gegee het. Sekere onderrig is in verhaalvorm verstrek soos Jona en die groot vis en Josef se betrokkenheid by sy broers. Hierdie verhale en ander soortgelykes, is bedoel om ons te leer van die groot bybelse beginsels binne die konteks van die lewens van die persone wat dit ervaar het. Die gebooie van die Tora is meer direk, sootgelyk aan wat ons hier in Parasha Mishpatim teëkom. Beide die onderrig en gebooie word vir dieselfde doel aan ons gegee; om die sondaars se skuld te bewys deur hulle sondigheid op hulself te reflekteer en hulle onvermoë te toon om te lewe volgens die onderrig en gebooie van die Tora. Op hierdie wyse dien die Tora as ‘n leermeester wat aan die sondaars die weg na hul Redder aandui. Dan, wanneer die persoon gered is, verander die Tora die uitwerking daarvan op so’n persoon: dit beweeg van veroordeling van die sondaar, na onderrig van die geredde persoon om die lewe te lei as ‘n gelowige in Jesus die Messias. Dit is wat Paulus ons ook vertel:
Galasiërs {3:24} "Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. {3:25} Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie. {3:26} Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; {3:27} want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee."
Die konteks van die gebod in ons Tora-gedeelte (Eksodus 21:23) is streng juridies: begaan ‘n misdaad en betaal die boete. In daardie opsig, netsoos in die geval van moord (die Tora se straf in dié verband is die dood), as jy iemand se oog uitsteek, dan word jou oog uitgesteek. God het ‘n lys van misdade opgestel en ook die straf ten opsigte van elke besondere misdaad. Die straf is natuurlik net toegepas na deeglike ondersoek en ‘n geregtelike verloop van die saak, soos in die volgende Skrifgedeelte uiteengesit:
Deuteronomium {19:15} "Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ’n saak van krag wees."
Ek reken nou dat jy sal verstaan waarom ek die misdaad en vereiste straf deur God voorgeskryf, letterlik uiteensit. Hoe dit ookal sy en ek moet dit egter met spyt byvoeg, soos die Bybelse straf vir moord, word die geregtigheid wat God bedoel het, nie langer toegepas nie. In plaas daarvan het ons howe en versekeringsmaatskappye ‘n geldelike waarde aan liggaamsdele toegepas. Dus indien jy vandag skuldig bevind word aan die verlies van iemand se oog, is die straf x-bedrag ter vergoeding, terwyl as jy iemand se hand afsny, moet jy y-bedrag skadevergoeding betaal. Dit is dus duidelik dat vanweë die wydverspreide voorkoms van misdaad in ons liberale samelewing en die kritiese oorbevolking van ons gevangenisse, die gewensde maatreëls om misdaad te bekamp, geensins bereik is nie!
Hoe versoen ons dus wat Jesus ons in Matthéüs 5:38 leer met wat ons in Eksodus 21:23 - 25 lees? Indien ons glo dat Jesus die vleesgeworde God (God het na die aarde gekom in menslike gestalte) is en Hy die Lewende Tora (“In die begin was die Woord en die Woord het vlees geword”) is en ons glo dat God gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is, dan moet ons glo dat God Homself nie weerspreek nie! In Matthéüs hoofstuk 5, het Jesus basies verduidelik wat Hy in die Tora beveel het. Hy stel alles wat Hy gesê het in die vorm van ‘n gebod in die Tora, in behoorlike konteks en toepassing. Toe Hy gesê het: “Julle het gehoor”, het Hy verwys na die manier waarop Sy Tora-gebod destyds toegepas was, in teenstelling met hoe Hy voorgestel het dat dit toegepas behoort te word. Ons sluit hiermee af met wat Hy gesê het, soos ons verder lees:
Matthéüs {5:40} "En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry. {5:41} En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam."
Verse 40 en 41 is ’n voortsetting van verse 38 en 39 en soos ons kan sien, het dit geen betrekking op “‘n Oog vir ‘n oog” of “‘n Tand vir ‘n tand” nie. Ons moet dus verstaan Wie Jesus is en dit wat Hy gesê het en dit in die regte konteks plaas. Wanneer ons dit doen, sien ons dat Hy nie Sy eie verordening in Eksodus 21:23 weerspreek nie. Jesus leer eerder die skare oor ‘n onderwerp wat Sy verordening betref. Die onderwerp van Sy riglyn is nie regterlik (misdaad en straf), soos uiteengesit in Eksodus 21:23 nie, maar eerder dat Hy ‘n riglyn verskaf oor die BEGINSEL van hoe om die regterlike toe te pas. Meer presies lig Hy ons toe Oor WRAAK.
Niks wat ons doen, geen oordeel wat ons fel, geen straf wat ons oplê, behoort ooit op wraak gegrond wees nie. Jesus sê vir ons dat ons nooit wraaksugtig in ons oordeel moet wees nie en om nooit wraak te neem nie. Daar is dus geen teenstrydigheid nie!
Kom gou Jesus!
![]() |
| PDF weergawe |

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking