Saterdag 01 Februarie 2020

Verootmoediging

 Bo
(Gaan)


Eksodus {10:1} “Verder het die HERE vir Moses gesê: Gaan na Farao toe, want Ék het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig, {10:2}  en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat Ek Egipte aangedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat Ek die HERE is.”

Waarom verhard die Here ‘n mens se hart? Ek glo dat Hy dit doen om ‘n tweeledige doel. Eerstens, sodat Hy Sy wil kan volbring deur ‘n persoon en tweedens, sodat die persoon mag besef dat Hý God is en dat daar geen ander god is nie. Beide hierdie bedoelings word verklaar in hierdie week se Parasha deurdat God die hart van die Farao verhard het ter voorbereiding vir die kinders van Israel se uittog uit Egipte.

Met die lees van hierdie Parasha, mag sommige verras en selfs besorgd wees oor die feit dat God dit tot Sy eer gedoen en geroem het op die verharding van Farao se hart. Hulle mag selfs aanvaar dat dit bedoel dat God sonder onderskeid mense se harte verhard ten einde hulle te straf. Dit sou hulle lei om te glo dat God moonltik wispelturig te werk gaan en Hy, sonder rede, hulle hart eendag sal verhard. God verhard egter nie ‘n persoon se hart sonder ‘n regverdige rede nie. As dit dus die geval is, en ek glo dit is, hoe kies God wie se hart Hy gaan verhard en om welke rede? Ons Tora-gedeelte beantwoord daardie vraag vir ons:

Eksodus {10:3} “Toe gaan Moses en Aäron na Farao, en hulle sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Hoe lank weier jy om jou voor My te verootmoedig? Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.”

God verhard dus die harte van diegene wat weier om hulself voor Hom te verootmoedig. Die Farao het meer as genoeg tyd gehad om homself voor God te verootmoedig, maar hy het nie. In plaas daarvan, het hy homself as ‘n god beskou, en geweier om die opperheerskapy van die Here God van Israel, die enigste ware God, te aanvaar. Daarom het God die Farao se reeds verharde trotse hart gebruik en dit selfs veel harder gemaak om aan hom te bewys dat Hy God is en daar geen ander God buiten Hom is nie.

Die Farao is nie uniek om homself as ‘n god te beskou nie. Baie mense beskou hulself as gode, selfs vandag nog. Hulle doen dit deur na te laat om die één ware God, die God van Israel, die God van hemel en aarde te erken deur te sê: daar is meer as één manier om gered te word; deur te weier om Sy gebooie na te kom; deur te dink dat hulle beter weet as Hy; deur Hom nie as Here van hulle lewe te maak nie en deur Hom opervlakkig te vereer en tot Hom te bid, asof Hy een of ander gees is wat wag om hulle te beveilig, om slegs enkeles te noem. Dit is makliker om van onsself gode te maak, as wat ons dink. Een van die mees algemene maniere vandag, is om verwaand te wees en onsself nie te verootmoedig nie, soos die Farao. Hoe doen ons dit? Elke keer wat ons sê ons gaan iets doen, iets tot stand bring of êrens heen gaan sonder die erkenning van die opperheerskappy van God, onder Wie se wil ons is en deur Wie ons bestaan, maak ons asof ons ‘n god is.

Jakobus {4:13} “Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak— {4:14}  julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. {4:15}  In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.”

Deur nie God te erken in alles wat ons doen nie, is dit asof óns in beheer van ons lewens is. Ons word verwag om onsself voor Hom te verootmoedig en besef dat ons deur Sy wil bestaan. Die enigste manier om onsself te verootmoedig, is deur gehoorsaamheid aan Sy Tora en onderworpenheid aan Sy wil. Ons moet God altyd in alles erken, deur die byvoeging van die woorde: “Bizrat Ha Shem”  (as dit God se wil is), in ons gesprekke. Dink daaraan hoeveel male julle julself as ‘n god geag het, net soos die Farao, deur te sê: “more sal ék dit doen of daarheen gaan”, sonder om te erken dat, sou dit nie God se wil wees nie, julle niks sou kon doen nie. Erken God  van vandag af in alles wat julle sê en doen of beplan om te doen. As bygevoegde aansporing om dit te doen, onthou hierdie gelykenis van Jesus:

Lukas {12:18} “Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. {12:19}  En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. {12:20}  Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?”

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking