Vrydag 28 Februarie 2020

Vrygewigheid

Terumah
(Offerande)

Daar is ‘n baie belangrike Bybelse beginsel in hierdie week se Parasha, wat ek graag wil toelig:

Eksodus {25:1} "TOE het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ’n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring.{25:3} En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; {25:4} en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; {25:5} en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; {25:6} olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; {25:7} oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. {25:8} Ook moet hulle vir My ’n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9} Volgens alles wat Ek jou laat sien — die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort — so moet julle dit maak. {25:10} HULLE moet dan ’n ark van akasiahout maak. Twee en ’n half el moet sy lengte, en anderhalf el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte wees. {25:11} En jy moet dit oortrek met suiwer goud, van binne en van buite moet jy dit oortrek. En jy moet daaraan ’n goue krans maak rondom. {25:12} En giet daarvoor vier goue ringe, en sit dit aan sy vier voete vas, só dat twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant is.”

Vrywillige gawe was nog altyd ‘n beginsel van die Tora - Dit word ook gevind in die Nuwe Testament (Brit Chadasha); Trouens, die gemeente in Fillipi word deur Paulus (saul) geprys vir hulle gewilligheid om te gee.

Fillipense {4:15} "En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. {4:16} Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. {4:17} Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening.”

Die vrug waarna Paulus hier verwys, is die vreugde en seëninge wat voortspruit uit vrywillige gawes.

Eksodus {12:35} “En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; {12:36} en die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe.”

Die kinders van Israel het volop ontvang toe hulle Egipte verlaat het en nou is hulle deur die Here versoek om vrylik te gee, elkeen soos hulle harte hulle gewillilig gemaak het. Die Skrif is vol voorbeelde wat ons meedeel dat ‘n vrygewige hart ‘n vreugdevolle hart is.

1 Kronieke {29:9} "En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met ’n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee, en ook koning Dawid was baie bly."

Kan dit duideliker wees: om te gee, verskaf vreugde! Dit beteken dat ‘n vrygewige persoon, ‘n vreugdevolle persoon sal wees. Om te gee, is om die Here heelhartig te dien. As jy suinig is, dan is jy inhalig en daar is sekerlik geen vreugde daarin nie. Ook, as jy die Here dien, maar vreugde ontbreek, dan dien jy die in die vlees en nie in die Gees nie. Sommige persone gee ook in die vlees: Hulle gee met die verwagting om in ruil daarvoor iets van God of iemand te verwag. Dit is beslis nie om vrywillig te gee nie. Vrywillige gawe is ‘n onselfsugtige gawe wat aangespoor word deur ‘n begeerte om aan die Here te gee met ’n gewillige hart, terwyl niks terug verwag word nie.

Matthéûs {6:19} “MOENIE vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; {6:20} maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; {6:21} want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. {6:22} Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. {6:23} Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie! {6:24} Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!”

Wat in hierdie Skrifgedeelte gesê word, is dat ons doelgerig moet wees wanneer ons die Here dien. ‘n Mens kan nie dubbelsinnig wees nie, deur rykdom na te jaag en terselfdertyd probeer om God heelhartig te dien en volg nie - indien ons dit doen, sal beide skade ly. Ek wil ook graag hê dat ons moet kyk wat Jesus in hierdie verse sê, naamlik die effek van suinigheid en inhaligheid, motte wat verniel wat ons opgaar en inbrekers wat sal inbreek en steel. Ons almal het al skade ondervind wat motte aan klere doen en om op een of ander tyd besteel te word. Deur op te gaar, dink ons dat ons nog meer kan bymekaar maak, maar ons is verkeerd, omdat God sê ons is verkeerd!

Indien ons opgaar, sal Hy motte stuur om te verniel en diewe om te steel. Hy sal toelaat dat ons verkul word; teenspoed met ons motorvoertuig wat teen aansienlike koste herstel moet word; aansienlike mediese uitgawes. Met ander woorde, ons dink ons wen, maar dit is nie so nie. God is besig om te neem wat ons vrywillig aan Hom moes gegee het. Dit loon dus nie om suinig te wees nie.

Haggai {1:6} "julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ’n stukkende beurs te steek."

Hierdie vers vertel ons dat dit nie saak maak hoeveel geld ons het nie, dit sal nooit genoeg wees as ons nie vrywillige gewers is nie. Om op te gaar, sal altyd wees soos om geld te spaar in ‘n sak vol gate - dit sal altyd uitval. Deur dus ‘n vrygewige persoon te wees, is nie ‘n opsie nie - dit is ‘n noodsaaklikheid! Daarbenewens is om te gee, ‘n Bybelse beginsel vir versamel en behoud van rykdom. Jesus noem ook roes as ‘n gevolg van opgaar. Roes bederf, neem iets goeds wat mooi en bruikbaar is weg en verander dit in iets sleg, lelik of onbruikbaar. Wanneer Hy sê dat geld en rykdom, wat aan ons gegee is om ten goede te benut, in die hande van ‘n sefsugtige, inhalige persoon, alles wat lelik, sleg en nutteloos is sal word. Ten slotte, sê Jesus, as ons oog sleg is, sal ons hele liggaam sleg wees en andersom. ‘n Slegte oog, is ‘n Hebreeuse gesegde wat daarop dui om selfsugtig, inhalig en begerig te wees. Daarom sal ‘n slegte oog ons hele liggaam affekteer en ons lewens basies ruîneer. Wat is die oplossing?

Eksodus {25:1} "TOE het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ’n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring."

Probeer om ‘n vrygewige hart te hê - jy het vrylik ontvang, gee dus vrylik en oorvloedig.

Kom gou Jesus!

PDF weergawe














Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking