Yitro
(Jetro)
Eksodus {19:3} "Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig: {19:4} Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. {19:5} As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. {19:6} En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel."
Dis verbasend hoe mense woorde uit die Bybel aanhaal en hele teologieë daaromheen ontwikkel: soos die naam van God. Dikwels gebruik God in die Skrif die uitdrukking: “Roep My Naam aan.” baie mense gebruik hierdie uitdrukking letterlik en beskou dit as ‘n naam vir God. Dié uitdrukking bedoel hoegenaamd nie dat God verlang dat ons Hom op dié naam noem, soos ons ‘n vriend sal noem, byvoorbeeld Johan of Gert nie. God verwys hier eerder na Sy karakter. God se naam is Sy karakter! Om dus te roep op die “Naam van God”, sou beteken om te roep op Hom as die God wat ons genees, die God wat ons beskerm, die God wat vir ons voorsien, die God wat ons red ens. Ongelukkig het hele teorieë ontwikkel om die vind en gebruik, wat sommige mense besluit die eintlike naam van God behoort te wees. Daar is selfs ‘n beweging genaamd “Die Heilige Naam”. Hulle hele teologie is gebaseer op die woorde in die Bybel: “Roep My Naam aan”, tog het ontelbare mense onder die bekoring van hulle kettery verval. “Roep My Naam aan” is basies ‘n metafoor en God gebruik talle metafore in die Skrif, soos byvoorbeeld hierdie een:
Jesaja {41:10} "Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand."
Die woorde waarmee God beskryf word deur Sy Regterhand te gebruik, kom dwarsdeur die Skrif voor. Bedoel God werklik dat Hy fisies vanuit die hemel sal neerreik en ons met Sy Regterhand ondersteun? Nee, dit is ‘n metafoor wat bedoel dat God ons sal beskerm en ondersteun deur Sy krag en mag. In meeste gevalle, wanneer God na Sy Regterhand van Geregtigheid verwys, verwys Hy meer dikwels na Jesus, wat nou aan die Vader se regterhand sit.
’n Ander metafoor vind ons in vandeesweek se Parasha: “.....dat Ek julle op arendsvlerke gedra (het) ….” Ons weet dat dit slegs ‘n metafoor is omdat die kinders van Israel deur die wildernis moes loop om by berg Sinai uit te kom. Daar was beslis geen arende in die uittog nie. Daar was beslis geen arende betrokke by die eksodus nie (daar mag enkele aasvoëls rondgevlieg het in die hoop om iets te aas, maar daar was hoegenaamd geen Hebreërs wat deur arende gedra is nie). So, waarom deel God ons mee dat Hy die kinders van Israel op arendsvlerke gedra het? Hy beskrywe eintlik ‘n beeld. Dit is soortgelyk aan al die ander metafore wat God gebruik, om eintlik ‘n beeld van Homself en Sy optrede te beskrywe. Deur ons mee te deel dat Hy die kinders van Israel op arendsvlerke gedra het, verstrek God aan ons ‘n beeld van hoe Hy vir Sy mense gesorg het om hulle te bring waarheen Hy hulle wou laat gaan, soos ‘n arend wat sorg vir haar kuikens. Dit is ‘n uitdrukking van die wonderlike teerheid wat God aan Israel bewys het soos in die volgende Skrifgedeelte verduidelik word:
Deuteronomium {32:11} "Soos ’n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels — {32:12} die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie."
Na die beste van my kennis is daar geen arende wat hul kuikens op hulle vlerke dra nie. Eweneens is daar ook geen soort arend wat hul kuikens hoog in die lug opvang nie. Dus word ons weer aan ‘n metafoor voorgestel. Deur hulle te vertel dat Hy hulle nes versteur het, gevang en op Sy vlerke gedra het, sê God dat Hy spiritueel op Israel “neergestryk” het, hulle omstandighede verander het om daardeur hulle bevryding te bespoedig en dít het Hy met die spoed en gemak van ‘n arend vergelyk. Dit dui essensieel op God se besondere sorg en toegeneentheid teenoor Israel. Egipte was soos ‘n nes vir die kinders van Israel - dit was waar hulle “gebroei” het tot ‘n nasie Die tyd vir hulle bevryding het egter aangebreek. God het gewag vir die geleë tyd voordat Hy oor hulle “gesweef”, “opgetel” en begeester het om hul nes spoedig en kragtig te verlaat, soos ‘n arend wat haar kuikens uit hul nes druk wanneer hulle gereed is om te vlieg.
Dit is die beelde wat die Here ons wil laat sien. Die mooiste deel is dat die Here ons ook op arendsvlerke gedra het. Indien jy ‘n gelowige in Jesus die Messias is dan weet jy dat, voordat jy begin glo het, jy in slawerny gehou was deur ‘n wrede en genadelose meester, die Satan. Miskien het jy destyds nie besef nie, maar God het heeltyd oor jou gesweef soos ‘n arend oor haar nes sweef terwyl Hy gewag het vir die regte oomblik om jou vinnig en met krag te bevry.
Indien jou reddingsondervinding enigsins soos myne was, sal jy besef dat in Sy volmaakte tyd, die Here jou nes sal versteur deur dinge baie ongemaklik vir jou te maak en dan wanneer jy besluit om jou lewe aan Hom te wy, Hy jou met arendsvlerke opgetel en weggevoer het na Sy aardse koninkryk. As jy nie hierdie ondevinding gehad het nie en God, deur jou nes te versteur, dit vir jou ongemaklik maak om in dieselfde ou lewe te bestaan, aanvaar dan vir Jesus die Messias; nooi Hom in jou hart en lewe in en kyk hoedat God jou dra op Sy vleuels en met die krag en spoed van ‘n arend, jou wegvoer tot in Sy glorieryke koninkryk van gelowiges hier op aarde.
Kom gou Jesus!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking