Donderdag 12 Maart 2020

Tiendes

KiTisa
(Wanneer Jy Verhef)


Aangesien ek geen tekort aan inligting kon vind om op vandeesweek se Parasha kommentaar te lewer nie, het ek dus volstaan met die ondergemelde Skrifgedeelte. Mag dit tot eer van God en ‘n seën vir julle wees!

Eksodus {30:11} "VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê:{30:12} As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld aan die HERE gee as hulle getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie.{30:13} Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: ’n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom — die sikkel is twintig gera — ’n halfsikkel as offergawe aan die HERE. {30:14} Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die HERE gee.{30:15} Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as ’n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die HERE gee om vir julle siele versoening te doen. {30:16} Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen."

Die telling van die kinders van Israel moes slegs geskied vir ‘n doel soos deur die Here bepaal. Die getal van die kinders van Israel moes nooit vir enige ander doel as dié van die Here bepaal word nie en dan slegs op Sy versoek. Soos ons gelees het, het hierdie sensus, deur die Here bekragtig, ‘n besondere en buitengewone vereiste behels. Bo-en-behalwe om getel te word, moes elke persoon wat getel is en ouer as twintig jaar was, ‘n half-sikkel betaal as losprys vir hulle siel. Die half-sikkel betaling sou ook verseker dat geen plaag oor hulle uitbreek nie. Soos gesien, was hierdie geld dan ook bestem vir die instandhouding van die Tabernakel (Ohel Moed).

Ons onthou toe koning Dawid impulsief besluit het om die kinders van Israel te laat tel (Shamuel Bet: 2 Samuel ). Ongeag die pleidooi deur sy generaal Joab om daarvan af te sien, het koning Dawid die sensus tog laat plaasvind, wat nie deur God bekragtig is nie en gevolglik tot die uitbreek van ‘n plaag onder die mense gelei het, waaraan duisende gesterf het.

Wat het God bedoel met die versoek om betaling van geld as losprys vir ‘n mens se siel? Die Hebreeuse woord “kopher” word vertaal as “losprys”. Dit is waar ons die woord “kapparah” vandaan kry, wat “bedek” beteken. Die woord “kapparah” is toegepas op die offerande wat versoening beteken het vir ‘n sonde teen God gepleeg. Die Tora bevat egter talle voorskrifte met betrekking tot die wyse waarop diere geoffer moes word om aan hierdie doel te beantwoord. Kan die gee van geld, soos hier versoek, ook versoen vir ‘n sonde? Die antwoord daarop is ‘n uitdruklike NEE!  So, waarom sou die Here ‘n half-sikkel betaling vereis as losprys vir die siele van die kinders van Israel, wanneer geld nie as losprys vir siele kan dien nie?

Die antwoord hierop kom van die gebruik en doel van die half-sikkel betaling.

Eksodus {30:16} "Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen."

Die half-sikkel op sigself beteken nie die losprys nie. Geld of die betaling daarvan aan godsdienstige organisasies, kerk, sinagoge of prediker kan nie ‘n mens se siel loskoop nie. Dit was die wyse waarop die geld aangewend was, wat hulle siel losgekoop het Soos ons weet was die half-sikkel bedoel vir die diens van die Tabernakel. Tussen al die dienste wat in die Tabernakel verrig is, was dié wat die losprys verseker het, die korbanot (naderkoms-offerande/offers). Dit was hierdie offerande wat die siele van die kinders van Israel losgekoop het. Terwyl geld geen siel kan red nie, toon die Here tog hier dat geld wel noodsaaklik is vir die reddingsaksie van die siel. Sonder geld sou die Tabernakel nie behoorlik kon funksioneer nie en sonder ‘n behoorlike funksionerende Tabernakel, sou die kapparah nie gedoen kon word met die diere wat gebruik is as plaasvervangende offerande vir die sondes van die mens nie. Diere is doodgemaak / geslag  as losprys vir die siele van die mense.

Die Here het die belangrikheid van geld in die algemene proses van redding besef en ek dink ons behoort dieselfde te doen. Sonder behoorlike finansiering sal ons Messiaanse gemeentes nie oor die vermoë beskik om te onderrig, preek, bedien en getuig aan die verlore siele van die huis van Israel en aan die nasies nie. Ek bid dat elkeen wat hierdie D’ Var Torah lees, sy/haar deel sal doen deur tiendes by te dra aan hulle kehila (gemeente) en ondersteunende Messiaanse sendelinge vir die losprys van siele. Die verewiging van die Besora Tova (Goeie Nuus/Evangelie) moet aan die ganse wêreld verkondig word. Indien julle nie julle deel doen nie, wees versigtig dat ‘n plaag nie binne julle huisgesin uitbreek nie. God het dit gespreek - nie ek nie!   

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking