BeHa’Alotecha
(In Julle Opset)
Numeri {8:6} "Neem die Leviete onder die kinders van Israel uit en reinig hulle. {8:7} En so moet jy met hulle doen om hulle te reinig: Sprinkel op hulle water van ontsondiging; en hulle moet ’n skeermes oor hulle hele liggaam laat gaan en hulle klere was en hulleself reinig.{8:8} Daarna moet hulle ’n jong bul neem en die spysoffer wat daarby behoort: fynmeel met olie gemeng; en ’n ander jong bul moet jy as sondoffer neem. {8:9} En jy moet die Leviete voor die tent van samekoms laat nader kom en die hele vergadering van die kinders van Israel versamel. {8:10} Dan moet jy die Leviete voor die aangesig van die HERE laat nader kom, en die kinders van Israel moet hulle hande op die Leviete lê. {8:11} En Aäron moet die Leviete as beweegoffer beweeg voor die aangesig van die HERE namens die kinders van Israel, sodat hulle daar kan wees om die dienswerk van die HERE te verrig. {8:12} En die Leviete moet hulle hande op die kop van die bulle lê; en berei jy een as sondoffer en een as brandoffer vir die HERE, om vir die Leviete versoening te doen.{8:13} Dan moet jy die Leviete stel voor Aäron en sy seuns en hulle as beweegoffer aan die HERE beweeg. {8:14} En jy moet die Leviete onder die kinders van Israel uit afsonder, dat die Leviete myne kan wees.{8:15} En daarna moet die Leviete inkom om die tent van samekoms te bedien. So moet jy hulle dan reinig en hulle as beweegoffer beweeg."
Toe ek hierdie week se Parasha deurgelees en oorweeg het, het ek gevind dat ek alles wat Moses as leier moes doen, in verband kon bring. Al die take wat hy in sy leierskap moes uitvoer, is verduidelik. Aan die begin van die Parasha, is hy opgedra met die taak om die Leviete aan die Here te wy. Die druk was hier op hom, daar was geen ruimte vir foute nie. Dit op sigself was ‘n aansienlike taak en ek is seker dat dit buitengewone bestuurs- en administratiewe vaardigheid van hom vereis het.
As geestelike leier van ‘n gemeente, was daar ook van my verwag om allerlei administratiewe- en bestuurstake, bykomend tot my geestelike bediening, uit te voer. Dit het alles egter betrekking gehad omdat die geestelike sy daarvan nie geslaagd sou kon wees sonder dat die administratiewe- en bestuursgedeelte goed verloop het nie en andersom; Dit was alles totaal in verband met mekaar. Bediening is meer as net die geestelike, dog die geestelike is van uiterste belang; bediening behels egter ook bestuur sowel as administrasie.
Moses het ‘n besondere swaar las gehad wat hom opgelê is, beide geestelik en fisies, maar God het hom toegerus met al die vaardighede wat hy nodig gehad het om sy taak uit te voer. Die geestelike aspek het onstaan uit ‘n getransformeerde lewe - Moses met God: ek bedoel dat hy God waarlik ontmoet het, nie slegs fisies deur ‘n brandende bos nie, maar het God op ‘n persoonlike en verhoudingswyse ontmoet, wat sy geestelike lewe vir ewig verander het. Ten einde ‘n goeie leier te wees, moes Moses meer as geesvervuld wees. Julle het waarskynlik al die volgende uitdrukking gehoor: “So hemels gerig dat jy nie aards goed is nie”, hy moes ook ‘n goeie bestuurder en ‘n goeie administrateur wees. Wanneer hierdie vaardighede met die Gees gekombineer word, beskik ‘n mens oor die aanleg van ‘n goeie leier.
Moses het grootgeword as ‘n prins in Egipte en was gevolglik opgelei om ‘n leier, krygsman en staatsman te wees. Om te oordeel aan die wyse waarop Moses homself laat geld het om nagenoeg een miljoen mense in die wildernis te lei, kan ons aflei dat sy opleiding in Egipte uitsonderlik was. Daar was egter nog meer. Moses het veertig jaar in Midian deurgebring waar hy skape opgepas het. Baie mense mag nou die indruk kry dat Moses se jare van skape oppas, deurgebring is met rondsit terwyl hy een oog op die skape gehou het en die ander op die gras wat groei, maar Moses was veel meer as ‘n skaapherder. Saam met sy skoonvader was hy in die lewende hawebedryf. Om skape op te pas, is ‘n deel van herder te wees, maar dit is beslis nie al waaroor skaapherderskap gaan nie. Moses moes skape koop, verkoop en handeldryf met skape en die produkte daarvan, soos melk, kaas en wol in die plaaslike markte. O ja, hy was ‘n entrepeneur en as julle kennis het van die Midde - Oosterse kultuur, sou julle besef dat hy ook ‘n knap onderhandelaar met kundige onderhandelingsvermoë moes gewees het.
Numeri {11:1} "EN die volk het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer. {11:2} Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan. {11:3} Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het. {11:4} EN die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? {11:5} Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. {11:6} Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë."
Dit was ‘n ander aspek van Moses se verantwoordelikhede; Hy moes volstaan, met die mense se konstante klagtes, negatiwiteit en valse beskuldigings. Dit is hier waar die fisiese en geestelike by die genade van God aansluiting vind.
In Israel is daar ‘n Judaïstiese sekte genaamd Haredim. Daar is veel twispunte daaroor, omdat hulle sekulêre werk vermy en grootliks deur die regering ondersteun word, wat spanning op die begroting en ekonomie ten gevolg het. Hulle weier om militêre diens te verrig, praat hoofaaklik Yiddish (‘n Duitse dialek), nie Hebreeus nie en beskik ook nie oor gereelde skoolleerplanne, waar vakke soos rekenkunde, geskiedenis, aardrykskunde ens. onderrig word nie. Hulle hele lewens draai om godsdienstige studies, en as gevolg hiervan kan hulle nie funksioneer buite hulle eie gemeenskap nie: “hulle is so hemels ingestel dat hulle vir die wêreld van geen waarde is nie.” Ons Parasha vandeesweek leer ons dat daar ‘n ewewig tussen ons fisiese- en geestelike lewens móét wees indien ons die Here behoorlik wil dien.
Kom gou Jesus!
| PDF weergawe |
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking