Saterdag 06 Junie 2020

Restitusie

Numeri {5:5} “VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: {5:6} Spreek met die kinders van Israel: As ’n man of vrou enige menslike sonde doen, sodat ontrou teen die HERE gehandel word, en dié siel skuldig word, {5:7} dan moet hulle hul sonde wat hulle gedoen het, bely; daarna moet hy wat hy skuldig is, ten volle teruggee en die vyfde deel daarvan byvoeg, en hy moet dit aan dié een gee teen wie hy hom skuldig gemaak het. {5:8} Maar as die man geen losser het aan wie die skuld teruggegee kan word nie, behoort die skuld wat teruggegee moet word, aan die HERE, aan die priester, behalwe die versoeningsram waarmee hy vir hom versoening doen. {5:9} En elke heffing van al die heilige gawes van die kinders van Israel wat hulle na die priester bring, moet syne wees. {5:10} En elkeen se heilige gawes — dit moet syne wees: wat iemand aan die priester gee, moet syne wees.”

Wanneer ‘n persoon sondig, hoef hy nie net vergifnis te vra, van beide die Here en die persoon teenoor wie hy gesondig het nie, maar dit mag ook nodig wees dat hy restitusie (vergoeding) doen, by voorbeeld: ‘n dief, wanneer hy gevang is, moet restitusie doen aan die persoon van wie hy gesteel het. Hy moes dit wat hy gesteel het, teruggee plus ‘n bykomende twintig persent. Wat gebeur egter as die dief jare ná die tyd gevang word en die slagoffer reeds oorlede is, sonder lewende verwante? Wat is dán die dief se verantwoordelikheid? Hierdie Skrifgedeelte uit Parasha Naso beantwoord vir ons daardie vraag. Dit bepaal dat restitusie gedoen moet word aan ‘n familielid en indien daar nie een is nie, moet dit aan die Hoëpriester gegee word vir persoonlike gebruik.

Soos ons weet, is daar nie langer ‘n Tempel in Jerusalem nie, met die gevolg dat daar ook nie ‘n Aäron-priesteramp bestaan aan wie restitusie gedoen kan word nie, in geval daar ook geen lewende verwant is nie. Ons moet ons dus afvra of hierdie gebod (mitzvah) vandag nog op ons van enige toepassing sou wees. Die antwoord daarop is “ja” en ek sal kortliks verduidelik om welke rede.

Selfs indien Jesus die Messias ons, ons sondes vergewe wanneer ons dit bely, is ons steeds verplig om restitusie te doen indien ons oneerlik was, gesteel, iets geleen het sonder om dit terug te gee, of iemand onkoste of verlies veroorsaak het as gevolg van ons sonde. As die persoon nog lewe, moet ons dit regstreeks aan hom vergoed en as hy nie langer leef nie, moet ons die slagoffer se naasbestaande(s) opspoor. Wat doen ons egter as die persoon reeds oorlede is, daar geen lewende naasbestaandes is nie of indien die maatskappy waarvan gesteel is, nie langer bestaan nie? Hoe doen ‘n mens restitusie, aangesien ook daar nie langer ‘n Tempel is nie en gevolglik ook nie langer ‘n Hoëpriester is wat die restitusie kan ontvang nie?

Ongelukkig het ek ‘n situasie ondervind waar ‘n gemeenteleier - op grond van hierdie Skrifgedeelte - voordeel vir homself probeer trek het, deur dit op homself toe te pas en die restitusie van ‘n gemeentelid ontvang het, met ander woorde homself in die plek van die Hoëpriester geplaas het. Die gemeentelid was ‘n welbedoelende en eerlike persoon wat homself wou vryspreek deur restitusie te doen vir ‘n sonde in sy verlede, maar daar is voordeel daaruit getrek. Ek twyfel hoegenaamd nie daaraan dat, as ons gesondig en iemand skade aangedoen het, ons restitusie móét doen. Net omdat daar nie meer ‘n Tempel of Hoëpriester is nie, word ons nie vrygespreek van die verantwoordelikheid om vir ons sonde te vergoed nie: die Here vereis steeds van ons om restitusie te doen. Hoe gaan ons dan te werk? Moet ons dit dan aan die gemeenteleier vir sy persoonlike gebruik skenk? Hoegenaamd nie! Restitusie moet altyd gedoen word, wanneer vereis, maar moet toepaslik gedoen en aan die vereistes van die Tora voldoen, sodat die sonde vrygespreek kan word. Dus moet in ‘n geval waar die persoon reeds oorlede is of daar geen bloedverwant meer leef nie of die maatskappy nie langer bestaan nie, glo ek, dat die restitusiegeld, geskenk behoort te word aan welke gemeente, waaraan jy behoort, vir die gebruik. Om restitusie te doen, is nie Tempel-afhanklik nie en behoort tot selfs vandag toe om gewetensonthalwe streng uitgevoer te word.

Kom gou Jesus!


PDF weergawe


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking