Saterdag 18 Julie 2020

Gehoorsaamheid

Matot-Masei
(Stamme – Reise)

Matot (Stamme)

Numeri {31:21} "En die priester Eleásar het aan die krygsmanne wat na die oorlog getrek het, gesê: Dit is die wetsinsetting wat die HERE Moses beveel het. {31:22} Net die goud en die silwer, die koper, die yster, die tin en die lood — {31:23} elke ding wat in die vuur kan kom — moet julle deur die vuur laat deurgaan, en dit sal rein wees; ewenwel moet dit deur reinigingswater ontsondig word; maar alles wat nie in die vuur kan kom nie, moet julle deur die water laat deurgaan. {31:24} Julle moet ook jul klere op die sewende dag was; dan sal julle rein wees; en daarna mag julle in die laer kom."

Het julle dit gelees? Die Here het die manne wat oorlog toe moes gaan beveel om hulle klere op die sewende dag te was voordat hulle die kamp betree! Dit beteken dat die sewende dag heel moontlik op ‘n Sabbat kon geval het. Niks word egter hier gemeld dat hulle op die sewende dag hulle klere moes was nie, behalwe as dit op ‘n Sabbat geval het. Ons word nie gesê oor presies hoeveel dae die oorlog gewoed het nie en ook nie die dag waarop dit geëindig het nie. 

Indien ‘n oorlog dus op ‘n Sabbat eindig, sou dit beteken dat hulle hul klere op Saterdag (Sabbat) moes was. Hoe kan dit moontlik wees? Hoe kon God in Sy Woord beveel om nie op die Sabbat te werk nie en dan omkeer en hierdie manne uit die oorlog te beveel om hulle klere op die sewende dag te was, sonder om die Sabbat te oortree? Die antwoord is baie eenvoudig en Jesus die Messias het in die Nuwe Testament die antwoord verstrek:

Markus {2:27} "En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie."

Wat hierdie vers beteken is dat ons nie geskape is om die Sabbat te dien nie; die Sabbat is ingestel om ons te dien. Die Sabbat sou ‘n verpligte dag-af wees. Dit was iets ongehoord in die heidense wêreld van daardie dag in die geskiedenis.

Die Here is nie legalisties nie; Hy is ‘n deernisvolle, liefdevolle, besorgde en begrypende God. Die manne uit die oorlog, na wie in ons Parasha verwys word, het pas ‘n oorlog ten behoewe van die Here geveg. Die presiese aantal dae wat die oorlog geduur het, word nie gemeld nie en ons weet ook nie op watter dag die oorlog geëindig het nie. Ek is oortuig daarvan dat toe die oorlog geëindig het en die manne moeg en gedaan was, hulle niks meer verlang het as om terug te keer na hul huise en families nie. Voordat hulle egter die kamp kon binnegaan, moes hulle die opdrag van God gehoorsaam om vir sewe dae buite die kamp te bly en op die sewende dag hulself moes reinig en hulle klere was. Slegs dan kon hulle met hul geliefdes verenig word en hul geliefdes met hulle. Soos ek hierbo gemeld het, is dit heel moontlik en waarskynlik dat die sewende dag op die Sabbat geval het. Indien wel, sou die begrypende God, Wie ons ken en aanbid, die manne nog ‘n bykomende dag laat wag voordat hulle toegelaat word om terug te keer na hul huise en geliefdes? Ek dink nie so nie! Hy sou hulle toelaat om hul klere te was, selfs al was dit ‘n Sabbat, vermoedelik sodat hulle die kamp kon binnegaan en met hulle families te verenig, sonder enige verdere vertraging. 

Markus{3:4} "Daarop sê Hy vir hulle: Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, ’n lewe te red of dood te maak? Maar hulle het stilgebly."

Dit is duidelik wettig om op die Sabbat goed te doen. Dus, selfs as hierdie manne die vereiste sewe dae buite die kamp moes nakom, die vereniging van hierdie oorlogsmanne met hulle geliefdes, nadat hulle die verskriklikhede van oorlog moes verduur, was duidelik iets goeds en daarom wettig. Selfs al het dit beteken dat hulle hul klere op die Sabbat moes was.

Sommige mense behoort goed en deeglik te kyk na hulleself en die mensgemaakte reëls, wat hulle op hulself en ander mense toepas. In sekere dele van die Tora en onder sekere toestande blyk die Here nie so dogmaties of streng te wees soos wat ons dink of Hom uitmaak om te wees nie. As gelowiges in Jesus die Messias, behoort ons lewens oorheers te word deur liefde en nie deur afkeuring nie.

Galasiërs {5:22} "Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. {5:23} Teen sulke dinge is die wet nie."

So, wat hulle deur die Here beveel is om te doen, indien dit op die Sabbat geval het, kon dit werklik as werk geklassifiseer word? Blykbaar nie!

Masei (Reise)

Numeri {33:50} "En die HERE het met Moses gespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo, en gesê: {33:51} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan in die land Kanaän intrek, {33:52} moet julle al die bewoners van die land voor julle uit verdrywe en hulle beeldhouwerk verniel; ook moet julle al hulle gegote beelde verniel en al hulle hoogtes verwoes. {33:53} En julle moet die land in besit neem en daarin woon; want Ek het die land aan julle gegee om dit te besit. {33:54} En julle moet die land deur die lot as erfdeel verwerwe, volgens julle geslagte; vir die wat baie is, moet julle hulle erfdeel groot maak, en vir die wat min is, moet jy hulle erfdeel klein maak. Waar die lot vir iemand val, moet dit sy deel wees; volgens julle vaderlike stamme moet julle dit as erfdeel verwerwe. {33:55} Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon. {33:56} En soos Ek gedink het om aan hulle te doen, sal Ek aan julle doen."

Watter ontnugterende woorde! Ons weet sekerlik uit die Geskrifte dat Israel nie na die Here geluister het nie en die bewoners van die land voor hulle uitverdryf het nie, soos hulle beveel was. Ons weet ook dat as gevolg daarvan, die bewoners van die land soos dorings in Israel se oë en angels in hulle sye geword het, netsoos die Here gesê het dat hulle sou word. Israel het nie net die bewoners van die land nie voor hulle uit gedryf nie, maar die bewoners het Israel spoedig verlei om hulle gode te aanbid. Die gevolg was, soos God gewaarsku het: Hy het aan Israel gedoen wat Hy voornemens was om aan die Kanaäniete te doen en Israel uit die land verdryf.

Die feit van die saak is: die Here ploeter nie rond nie! Sy waarskuwing moet gehoorsaam word en Sy opdragte moet getrou uitgevoer word of die gevolge waaroor Hy gewaarsku het, sal plaasvind. Waarom enigeen sou dink dat hulle die Woord van God kan bestudeer, nie uitvoer wat dit sê nie en nogtans meen dat hulle daarmee kan wegkom sonder om die gevolge van ongehoorsaamheid, waaroor Hy gewaarsku het te verduur, gaan my verstand te bowe. God het nie ‘n boek van voorstelle geskryf nie maar ‘n Boek van Gebooie.

Die Tora is vol waarskuwings van die Here, wat aan ons voorskryf hoedat ons, ons lewens moet lei en hoedat ons dit nie moet lei nie, selfs die gevolge indien ons nie Sy opdragte nakom nie. As jy ‘n gelowige is, het jy in die Bybel gelees en dra kennis wat plaasgevind het met die antieke Israel as gevolg van hulle ongehoorsaamheid, deur die waarskuwings van God te ignoreer. Desondanks verkies baie mense, ja, selfs gelowiges vandag nog, steeds om die afdraandpad van selfvernietiging te volg deur God te ignoreer.

Die kinders van Israel het in 1948 die land Israel in herbesit geneem. Omdat die Here egter nie weer die waarskuwings - in die verse hierbo aangehaal - herhaal het voordat hulle die land ingegaan het nie, beteken dit hoegenaamd nie dat Hy van plan verander het betreffende die voorwaardes om die land aan hulle te gee nie. Na alles is die Here dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid. Hy weifel nie. In 1948 het die Here ons ‘n tweede geleentheid gebied om gehoorsaam te wees en in 1967 het Hy dit wéér gedoen, maar in beide gevalle, was die kinders van Israel ongehoorsaam aan God se Tora, deurdat hulle nie Sy opdragte uitgevoer het nie om die bewoners van die land voor hulle uit te drywe toe hulle wel die kans gehad het om dit te doen nie. Gevolglik ly ons steeds  onder dieselfde gevolge waaronder Israel duisende jare vantevore vir hulle ongehoorsaamheid gely het. Die bewoners van die land is weereens soos dorings in ons oë en steke in ons sye. Die ongelukkigste deel is, ons weet hoedat die storie aan die einde gaan verloop.

Sagaria {13:8} "En in die ganse land, spreek die HERE — twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. {13:9} Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ’n mens silwer smelt en hulle toets soos ’n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God!"

So erg as wat dit in die toekoms vir ons gaan wees - tenminste hierdie keer sal die Here ietwat meer genadig wees en ons nie geheel-en-al uit die land verdryf nie. Hy sal ons egter bring tot op die rand van vernietiging (twee-derdes sal omkom aan die hand van ons vyand), op welke punt die Skrif lui:

Lukas {13:35} "Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat. Voorwaar Ek sê vir julle dat julle My sekerlik nie sal sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!"

Kom spoedig Here Jesus, verlos ons en verlos Israel uit al sy moeilikhede.    

Kom gou Jesus!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking