Devarim
(Woorde)
In hierdie Parasha verstrek Moses aan die kinders van Israel ‘n gedetaileerde opsomming van hulle reis, vanaf die begin toe hulle Egipte verlaat het. Julle mag miskien wonder waarom hy so in besonderhede gegaan het, deur elke ompad, draai en einde te verduidelik. Die rede, soos ons weet, is dat hierdie ‘n nuwe geslag was; die vorige geslag, wat oorspronklik Egipte verlaat het, het intussen omgekom. Selfs indien sommige van die nuwe geslag miskien reeds oud genoeg was om min of meer te onthou, wat hulle ouers ervaar het tydens die jarelange geswerf in die wildernis, was die meeste van hulle te jonk om werklik te besef wat gebeur en waarom dit plaasgevind het. Daarbenewens moes daar tog geboortes gewees het terwyl die kinders van Israel in die wildernis rondgeswerf het, maar hierdie kinders het hoegenaamd geen kennis van Egipte gehad nie. Dit was dus noodsaaklik dat hierdie nuwe geslag moes onthou (“zachor”) wát plaasgevind het en die rede waarom dit alles plaasgevind het. Meeste van hierdie nuwe geslag móés hulle geskiedenis ken sodat hulle dit nie sou herhaal nie. Ek glo dat dit juis om dié rede was dat Moses dit so in die fynste besonderhede verduidelik het.
Geskiedenis het die geneigdheid om dit te herhaal, indien ons die verlede nie onthou en selfs ons geskiedenis nie ernstig opneem nie - ons toekoms kan gevolglik daaronder ly. Ons almal het Geskiedenis as vak op skool geneem, wat ‘n mens in staat stel om kennis van die land, waarin ons woon, op te doen. Dit het ons patriotisme verseker en sal hopelik sowel ons as ons politici lei om nie sekere foute wat ons voorvaders begaan het, te herhaal nie. Moses wou seker maak dat hierdie nuwe geslag en alle toekomstige geslagte nooit die uitbuitings, rondswerwings, oorloë en opstande vanaf die tyd wat die kinders van Israel Egipte verlaat het tot hulle aankoms by die grens van die beloofde land, sou vergeet nie
Deuternomium {1:6} "Die HERE onse God het met ons by Horeb gespreek en gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly. 1:7} Trek weg en breek op en gaan na die gebergte van die Amoriete en na al sy naburige plekke: die Vlakte, die Gebergte en die Laeveld en die Suidland en by die seekus — die land van die Kanaäniete en die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier. {1:19} Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die HERE onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom. {1:20} Toe het ek vir julle gesê: Julle het tot by die gebergte van die Amoriete gekom wat die HERE onse God aan ons sal gee. {1:21} Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die HERE, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie. {1:26} maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God. {1:27} En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die HERE ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg."
Hoe goed het die kinders van Israel hulle geskiedenis onthou? Ongelukkig nie te goed nie, want soos ons almal weet, het hulle baie van dieselfde foute as hulle voorvaders begaan. Gevolglik het dit uiteindelik toekomstige geslagte in baie soortgelyke posisies as hulle voorvaders laat beland.
Toe die vorige geslag in opstand teen die Here gekom het, deur te weier om die land Kanaän binne te gaan, het Hy hulle laat omdraai en veroorsaak dat hulle vir veertig jaar in die wildernis rondgedwaal het, waar hulle almal uiteindelik omgekom het. Hierdie nuwe geslag was gereed om die land binne te gaan en is deur Moses beveel om hulle geskiedenis te leer sodat hulle ook hulle kinders daarin kon onderrig. Slegs ‘n geslag later is dit egter bewys dat die kinders van Israel niks van hulle geskiedenis geleer het nie. In plaas daarvan, het hulle ook herhaaldelik teen die Here in opstand gekom. Hulle voorvaders - vanweë hulle opstand - is nie toegelaat om die land binne te gaan nie en uiteindelik, as gevolg van die nuwe geslag se opstand, het die Here hulle uit die land uitgesit.
Tensy ons uit ons uit ons geskiedenis leer, is ons ook bestem om dit te herhaal. Ek verwys nie hier na ons nasionale geskiedenis nie, maar na ons persoonlike geskiedenis! Ons almal het al een of ander tyd in ons lewens teen die Here in opstand gekom en aan gevolge daarvan gely - sommige baie ernstig, ander minder ernstig, maar dit was onteenseglik gevolge. Sommige ly steeds onder die gevolge van ons opstand. Ek weet nie van julle nie, maar ek kan ongetwyfeld sekere van die gevolge wat ek in my lewe ervaar het, toeskryf aan tye waartydens ek teen die Here opstandig was. Soos die kinders van Israel, het ek tot my spyt in sekere gevalle ook nie uit my persoonlike geskiedenis geleer nie en dieselfde foute herhaal, wat op meer intense gevolge uitgeloop het. Onnodig om te sê, is ek nou baie meer bedag daarop om uit die foute van die verlede te leer en met die hulp van God probeer ek my uiterste bes om dit nie te herhaal nie.
1 Korinthiërs {10:1} "WANT ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, {10:2} en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, {10:3} en almal dieselfde geestelike spys geëet het, {10:4} en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. {10:5} Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. {10:6} En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie."
Paulus waarsku die Korinthiërs en natuurlik ook vir ons hier, dat alles wat met die kinders van Israel gebeur het, vir ons as voorbeelde moet dien. Eenvoudig gestel, sé hy “as ons nie uit ons geskiedenis leer nie, loop ons gevaar om dit te herhaal!”
Kom gou Jesus!

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking