Balak
(Balak)
Numeri {23:2} "En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het; en Balak en Bíleam het ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer. {23:3} Daarop sê Bíleam vir Balak: Bly by jou brandoffer staan, en ek sal heengaan; miskien sal die HERE my tegemoetkom, en wat Hy my ook al laat sien, sal ek jou bekend maak. En hy het na ’n kaal heuwel gegaan. {23:4} En God het Bíleam tegemoetgekom, en hy het vir Hom gesê: Sewe altare het ek reggemaak en ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer. {23:5} Toe lê die HERE ’n woord in Bíleam se mond en sê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek. {23:6} En hy het na hom teruggegaan terwyl hy daar staan by sy brandoffer, hy en al die vorste van Moab. {23:7} En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Uit Aram laat Balak my haal, die koning van Moab — uit die berge van die Ooste: Kom vervloek Jakob vir my, en kom, verwens Israel. {23:8} Hoe sal ek vloek wie Gód nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die HERE nie verwens nie?"
Deur die lees van die hele Parasha Balak, besef ons dat selfs al het Bíleam so hard as wat hy kon probeer, was dit nie vir hom moontlik om die kinders van Israel te vervloek nie; trouens, volgens vers 8 hierbo, het hy sy onvermoë erken om te vervloek wie die Here geseën het. Dit is ‘n les wat elkeen van ons behoort te verstaan en kennis van te neem. Die Satan is nie in beheer van wie vervloek en wie geseën word nie - God is in algehele beheer! Die Satan kan niks doen sonder God se voorafgoedkeuring nie. Indien julle vir ‘n enkele oomblik dink dat enigeen ‘n weergebore kind van God kan vervloek enige tyd wat hulle wil, begaan julle ‘n groot fout - sonder goedkeuring van God kan die Satan niks doen nie.
Gedurende die jare wat ek ‘n Messiaanse leier was, het ek mense teëgekom wat beweer het dat ‘n vloek oor hulle uitgespreek is. Jy kan sekerlik vervloek word en onder sekere omstandighede, kan ‘n vloek oor ‘n persoon uitgespreek word, maar slegs, soos ek gesê het, onder bepaalde omstandighede. Wat is daardie omstandighede? Die eerste en mees klaarblyklike is indien julle NIE gelowiges in Jesus die Messias is nie en Hom nog nie in julle lewens ingenooi en hom julle Heer en Redder gemaak het nie. Die tweede is, indien julle gelowiges in Jesus die Messias is en doelbewus, of onbewus of per abuis sondig, sonder berou en om die sonde onder die bloed van Jesus te belei. In die eerste geval is julle kinders van Satan en kan hy met julle doen wat hy wil en in die tweede geval, deur te sondig en nie berou daaroor te hê nie, het julle die deur van julle lewe vir die Satan oopgestel en aan hom die wettige reg verleen om julle voor God aan te kla. Daardeur is julle nie langer onder Sy beskerming nie. God is regverdig; Hy kan nie sonde aanskou nie en móét die sondaar oordeel; Dít doen Hy deur die Satan as Sy instrument te gebruik.
Ons as mense kan ons skaar by een van die twee kampe: óf by God óf by die Satan. Die Satan is die heerser van ongesiene magte, met ander woorde: Hy is in beheer van die wêreldstelsel, soos ons dit vandag ken. Daarom is daar soveel onheil op aarde.
Met die sondeval van die mens, toe Adam en Eva aan God ongehoorsaam was, het sonde in die wêreld gekom en deur sonde is die mensdom deur die Satan, as die owerste van sonde en dood, gekonfronteer.
God wat sonde nie kan aanskou nie aangesien Hy self sondeloos is, het Hom van die mensdom onttrek en hulle was nie langer onder Sy beskerming nie - hulle was vervloek. Die offerstelsel (Korbanot), soos ons in die boek Vayikra (Deuteronomium) uiteengesit, is deur God ingestel om Israel se sondeprobleem te genees. By wyse van plaasvevangende diere-offers is sonde na ‘n sondelose dier (lam) oorgeplaas en daardie dier se bloed is gestort (dood) in plaas van die sondaars.
Levitikus {17:11} "Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel."
Hierdie stelsel van Korbanot was slegs op Israel en diegene wat hulself by hulle aangesluit het, van toepassing. God se verlossing moes na alle mense uitgebrei word. Die stelsel van Korbanot is afgeskaf en die tempel is vernietig omdat dit nie langer nodig was nie en God Self het as ‘n Mens na die aarde gekom om die verlossingsprys vir sonde te betaal. Alleenlik God kon Sy eie Wet vervul, dat sonde gelyk is aan die dood en Hy het dit gedoen deur om ons onthalwe te sterwe. Wie ookal dit dus aanvaar en hulself assosieer met wat die Here vir hulle gedoen het, word ‘n kind van God en geniet Sy beheer en beskerming.
Om terug te keer na ons Parasha-skrifgedeelte; Die kinders van Israel was gedek deur die Korbanot terwyl hulle op die vlaktes van Moab was en sondeloos gebly het As sulks was hulle onder die beskerming van God en daarom kon hulle nie deur Bíleam vervloek word nie. Sodra hulle egter gesondig en God verlaat het terwille van seksuele immoraliteit - is die beskerming van God van hulle weggeneem. Hulle het dus die ryk van die Satan binnegegaan, ‘n ryk van sonde en dood.’n ryk waar hulle kwesbaar was vir vervloeking. As gevolg daarvan, het duisende gesterf. Leer dus uit die volgende Skrifgedeelte:
1 Samuel {18:9} "En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad. {18:10} Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul ’n spies in sy hand hou."
Solank as wat koning Saul God gevolg en gehoorsaam was, was hy onder die beskerming van God, maar sodra hy gesondig het, is daardie beskerming weggeneem en was hy onder die invloed van die Satan. Die bose gees was van God afkomstig! Dit bewys, soos ek vroeër gesê het, dat die Satan niks kan doen tensy God hom dit toelaat nie en Hy sal hom slegs toelaat indien ons sondig, maar, ons wat gered is, het ‘n Voorspraak vir sonde:
1 Johannes {2:1} "MY kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige."
Hoe kan julle verhoed om vervloek te word? Ontvang Jesus die Messias as julle Here en Redder, en leef dan ‘n lewe wat die Here behaag. - ‘n lewe, waar as julle sondig, julle Jesus die Messias het om om vergifinis te vra. Hy sal julle saak by die Vader bepleit en julle sal van ‘n sondaar tot ‘n geredde persoon verander word.
Kom gou Jesus!
| PDF weergawe |
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking