Va'Etchanan
(En Ek Het Gepleit)
Deuteronomium {3:23} "Ook het ek die HERE in dié tyd gesmeek en gesê: {3:24} Here, HERE! U het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U? {3:25} Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon! {3:26} Maar die HERE het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die HERE het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.”
Dit was nie vir my nodig om baie ver in ons oordenking vir hierdie week te lees nie, voordat ek iets gevind het om kommentaar oor te lewer; trouens, ons het hierdie einste onderwerp drie weke gelede tydens ons Sabbatoggend Tora-studie behandel. Wat ons bespreek het, was: "Waarom verhoor God soms nie ons gebede nie?" Waarom is dit dat, indien ons bid vir sake soos die genesing van 'n familielid of 'n baie vroom persoon of ons bid vir die redding van 'n vriend of familielid of enigiets anders ookal, wat ons in verband met die wil van God bring, verhoor God ons nie? In die hernieude Verbond staan daar immers dat wat ons ookal vra, Hy aan ons sal gee.
Johannes {14:13} "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. {14:14} As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen."
Waarom is dit dus so dat in die week se oordenking, Moses God vra om hom toe te laat om in die Beloofde Land in te gaan, maar dit hom geweier word? Sekerlik, soos ons bewus is, het Moses 'n persoonlike verhouding met God gehad - Moses het tog van aangesig tot aangesig met God gespreek. Daarom, eenvoudig gegrond daarop, sou 'n mens verwag het dat sy versoek toegestaan sou word. Nogtans het God geweier.
Baie gelowiges raak moedeloos of verloor selfs hulle geloof, wanneer hulle Johannes 14:13 gelees het, maar hulle gebede nie verhoor word nie. God het egter nooit gesê dat hy al ons gebede sal verhoor nie. Ons moet dus kyk na Jesus se verklaring, binne die konteks waarin Hy gespreek het, voordat ons tot die gevolgtrekking kan kom dat God alles wat ons vra, sal gee. Om daardie konteks beter te begryp, moet ons die volgende lees:
Johannes {14:10} "Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. {14:11} Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self. {14:12} Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan."
In hierdie gedeelte word ons vertel dat Jesus die werke van die Vader doen omdat die Vader in Hom is en Hy in die Vader. Jesus verklaar dus dat Hy niks op eie inisiatief doen nie. Alles wat Hy doen, word gedoen omdat die Vader in Hom bly. Dan sê Jesus verder dat as ons in Hom glo, sal ons ook die werke doen wat Hy gedoen het - trouens, selfs groter werke as dit. Indien ons in Jesus glo, bly Hy in ons en ons in Hom en op grond daarvan, kan Hy deur ons soortgelyke of groter werke doen, as wat Hy gedoen het. Die konteks van hierdie gedeelte is dus Sy inwoning en deur hierdie inwoning, ons vermoë om "werke" te doen en "selfs groter werke". Dan sê Jesus verder:
Johannes {14:13} "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. {14:14} As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen."
As die onderwerp waaroor Jesus spreek , ons "werke" is, wat die gevolg van Sy inwoning in ons is, dan moet die "wat julle ookal in My Naam mag vra" op daardie onderwerp betrekking hê. Wat bedoel Jesus dus eintlik wanneer Hy sê dat wat ons ookal van Hom bid, Hy aan ons sal gee? As die "wat.....ookal" werke is en die voorbeeld wat Jesus ons gee, is dat Hy niks buiten die wil van Sy Vader se inwoning doen nie, dan moet presies dieselfde ook op ons van toepassing wees. Deur Jesus se inwoning in ons, kan ons niks buiten Hom doen nie. In daardie geval, wat is daar dan wat ons kan vra, wat Hy aan ons sal gee, indien ons niks buiten Hom kan doen nie? Dit is "werke" en "selfs groter werke"! Dit is egter nie net enige soort werke wat Jesus sê Hy aan ons sal gee wanneer in Sy naam daarvoor bid nie, maar spesifieke "werke", soos aan ons gesê word:
Johannes {13:34} "‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê." {14:15} "As julle My liefhet, bewaar My gebooie." {15:12} "Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het."
Die "werke" is liefde! Soos wat ons in Jesus inwoon en Hy in ons, sal Hy enige tyd wat ons om die vermoë vra om lief te he - of dit vir Hom of iemand anders is - dit aan ons skenk; trouens, Hy sal aan ons so 'n kapasiteit gee om lief te he, dat ons liefde selfs 'n groter uitwerking as Syne op mense sal hê. Dit is natuurlik verstaanbaar wanneer 'n mens begryp dat Jesus nie langer op aarde by ons is nie en onsigbaar is. Die enigste Jesus wat die wêreld vandag duidelik kan sien, is die Een wat deur ons liefhet.
Kom gou Jesus!

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking