Shemot
(Eksodus)
Eksodus {2:23} "En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. {2:24} En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. {2:25} En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken."
In hierdie Skrifgedeelte word net terloops gemeld: “En in daardie lang tyd”, skep miskien die indruk asof slegs ‘n paar dae verloop het tussen die tydperk wat Israel in slawerny in Egipte verval het en die dood van die Farao van Egipte. Die feit is egter dat honderde jare verloop het; trouens, tweehonderd- en- vyftig jaar.
Dit is nie die eerste keer wat ons hierdie tipe van terminologie in die Skrifte teëkom nie. Dit kom dwarsdeur die hele (Tanach) Hebreeuse Geskrifte voor:
Genesis {4:3} "En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ’n offer gebring."
Genesis {38:12} "En ná verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe. En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet."
Rigters {11:4} "En ’n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel."
2 Kronieke {21:19} "En ná enige tyd, naamlik teen die einde van die tweede jaar, het sy ingewande by sy siekte uitgekom, sodat hy onder hewige pyne gesterf het; en sy volk het vir hom geen wierookbrand gemaak soos die brand vir sy vaders nie."
Selfs al het sekere van hierdie gebeure nie honderde jare geduur nie, maar “met verloop van tyd”, bring dit ons onder die indruk dat alles gebeur met die verloop binne God se tydsbepaling en niks vind plaas vóór die tyd nie.
Ons is altyd so haastig dat God in ons lewens moet intree; ons verwag dat alles onmiddelik moet gebeur. Dit is veral waar, wanneer dit ‘n gebedsversoek is oor iets wat ons wil hê. Tipies is ons ongeduldige mense. Ons haat dit om in lang toue te staan en raak briesend wanneer die persoon in die ry voor ons sukkel met kleingeld wanneer daar vir die aangekoopte items betaal moet word. Ons krimp omtrent ineen indien die kassier moet gaan om die korrekte prys van een of meer items van die kliënt te gaan vasstel, terwyl ons moet rondstaan en wag. My vrou en ek het eendag by ‘n kruidenierswinkel gestaan, terwyl die persoon voor ons van die kassier verwag het om keer op keer die totaal van haar aankope te verstrek en dan, indien die bedrag nog binne haar begroting was, het sy die ry verlaat om nog ‘n verdere item te gaan haal en die totaal dienooreenkomstig aan te pas. Dit het meer as viermaal gebeur terwyl ons hulpeloos toegekyk en gewag het, Dít was werklik ‘n toets vir ons geduld!
God beskik egter oor oneindige geduld - Hy doen alles “met verloop van tyd”. Hy raak nooit gejaagd nie, Hy is nooit haastig nie en wag altyd tot die geskikte tyd om op te tree. Dit was die geval met Moses in hierdie week se Parasha. Hier leer ons dat God hoegenaamd niks doen voor die regte tyd nie. Hoe weet God wanneer die tyd reg is vir Hom om op te tree? Dit is wanneer Sy doel vervul is, wat dit ook al mag wees!
Johannes {7:6} "Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie Maar julle tyd is altyd daar. {7:7} Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. {7:8} Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie daar is nie."
Hier is die einddoel, “die verloop van tyd”. Jesus moes op ‘n spesifieke wyse sterf: ‘n Romeinse kruis, in ‘n spesifieke stad; Jerusalem en op ‘n bepaalde dag; die derde Pesach (Paasfees) nadat Hy Sy bediening hier op aarde begin het. Ofskoon die Satan dikwels probeer het om Jesus te laat doodmaak, het Hy altyd gefaal en Jesus het daarin geslaag om ongedeerd weg te kom en nie leed aangedoen te word nie, omdat Sy tyd nog nie aangebreek het nie. Toe Jesus se tyd wel aangebreek het, het Hy gegaan, op die bestemde tyd, na Jerusalem en ons weet wat daarna plaasgevind het.
Die wyse waarop God in die Skrif gewerk het, is dieselfde as wat Hy vandag nog in ons individuele lewens doen. Ons is altyd haastig om met dinge aan te gaan. Ons verlang dat alles wat ons bid of vra dadelik moet gebeur, volgens óns tydsberekening. Ek dink ons almal benodig ‘n realiteitstoets en ons almal behoort te leer uit vandeesweek se Parasha. Dit is nie ons tydsberekening wat saak maak nie - dit is God s’n. Hy het Sy volmaakte tyd om te gee wat ons vra, solank as wat ons vra en bid volgens Sy wil. Hy sal dit alles skenk maar dit sal altyd “ met verloop van tyd” wees, dit is, volgens Sy tydsbepaling!
Kom gou Jesus!
![]() |
| PDF weergawe |

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking