D’Var Torah
Bereshit – In die Begin
Genesis / Bereshit {1:1} “In die begin het God die hemel en die aarde geskape. {1:2} En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. {1:3} En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. {1:4} Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; {1:5} en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. {1:6} En God het gesê: Laat daar ‘n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. {1:7} God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. {1:8} En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag. ”.
My pa het my altyd grappenderwys voorgestel as “My seun die chemikus. Hy neem my geld en verander dit in iets waardeloos.” In ‘n sekere opsig was hy reg, want in my jonger dae was ek baie onverantwoordelik met geld en het gewoonlik spoedig deurgebring wat my pa (hy was besonder vrygewig) aan my gegee het. Ek twyfel egter of ek in daardie opsig nou eintlik uniek was omdat meeste tieners as’t ware leef om geld uit te gee, op hulle behoeftes en begeertes. Dit is juis om hierdie rede dat meeste maatskappye se bemarking grootliks op die behoeftes van jongmense ingestel is.
Ek natuurlik “’n chemikus”, in die slegte sin van die woord: ek het niks uit iets geskep nie. God is ‘n Skepper: Hy skep iets uit niks. Hy het ‘n vormlose massa geneem en dit in ‘n pragtige planeet omskep. Enigiemand wat al gereis en die grootsheid van God se skepping gesien het, kan daarvan getuig.
Genesis / Bereshit {1:2} “En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. ”
Soos wat ek hierdie Skrifgedeelte voorstel, was daar hierdie reusagtige massa, wat in die ruimte gesweef en van vorm verander het, sonder dat dit ooit enige werklike vorm aangeneem het. Ek sien dit verder as ‘n watermassa wat doelloos in die ruimte gsweef het, totdat God dit in ‘n vorm (uitspansel) vergestalt het, met water daarbo en water daaronder. Daarna het Hy aan die uitspansel begin vorm gee, aanvanklik met droë grond totdat die aarde sy huidige vorm begin aanneem het.
Wanneer ek terugkyk op my lewe, voordat ek tot die reddende kennis van Jesus die Messias gekom het, sien ek ook my lewe as ‘n vormlose massa swewend in tyd en ruimte sonder ‘n bepaalde vorm of permanensie. My denke het verander soos wat die samelewing rondom my verander het en wat ek gedoen het en gedink het, het voortdurend gewysig na gelang van dit wat gewild was of wat ander mense daardie jare of ‘n bepaalde tyd gedoen het. Ek was in wese vormloos, leeg en sonder ‘n werklike lewensdoel. Iets het toe met my gebeur.
Terwyl ek eendag tuis siek was, was ek besig om televisie te kyk en in die proses om ‘n geskikte kanaal te vind, was daar één waar ‘n prediker se paar woorde op daardie oomblik, toevallig my aandag getrek het. Hy was besig om die hel te beskryf asook al die afgryslikhede wat diegene wat daarheen op pad was, sal teëkom. Ek het werklik gedink dat om op aarde te leef, inderdaad hel was. Elke dag moes ek in ‘n meedoënlose arena stry en veg om oorlewing in ‘n vyandige mededingende wêreld. Dit was ‘n wêreld waarin niemand, jou vriende ingesluit, vertrou kon word nie – dit was vir my hel. Toe ek dus van hierdie prediker verneem van ‘n plek wat veel erger sou wees as hierdie, is dit – nodeloos om te sê – dat ek bekommerd, selfs bang geraak het.
Terwyl ek na hierdie prediker geluister het, het hy as’t ware my lewe begin beskryf. Volgens hom, is die hel vol van onberouvolle leuenaars en bedrieërs; die seksuele permissiewes, trotsaards, hardvogtiges, opstandiges en ‘n hele lys van ander afwykende gedragte, vele waaraan ek daadwerklik skuldig was. Die moontlikheid dat ek, na my dood, in die hel sou beland, was vir my skrikwekkend.
Het ek miskien ook jóú lewe in die voorafgaande lewensverhaal van myself beskrywe? Is jy ook maar net ‘n vormlose massa wat rondsweef sonder enige werklike doel of vermoë? Indien jy Hom sal toelaat, sal God, gestalte en orde in jou lewe teweegbring. Vra hom om dit te doen! God het in menselike gedaante na die aarde neergedaal om die uiterste prys vir sonde – die dood – te betaal. Jy kan ook ‘n gestalte, ‘n lewensdoel hê: nooi Jesus die Messias net in jou lewe in: bely dat jy ‘n sondaar is, vra Hom om jou red en kyk net hoedat jou lewe gestalte aanneem!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking