Saterdag 08 Oktober 2011

Vasgevang in die Gewoonte van Karma, Toeval en Geluk

D’VAR TORAH 
Yom Kippur – Dag Van Versoening 


Op elke vesoeningsdag word hierdie klein gedeelte uit parasha Achare Mot (na die dood) gelees. Aangesien Yom Kippur vanjaar op ‘n Shabbat (Sabbat) val, is hierdie die Tora-gedeelte waaroor ek hierdie week kommentaar sal lewer. 

Levitikus / VaYikra {16:7} “Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die HERE stel by die ingang van die tent van samekoms. {16:8} En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot vir Asásel.” 

Toe ek ‘n gelowige in Jesus die Messias geword het, het ek gemeen dat om ‘n muntstuk in die lug op te gooi ten einde ‘n saak op te los of ‘n besluit te neem, goddeloos en blote bygelowigheid was. Ek het gereken dat dit iets is wat ongelowiges doen en dit gevolglik geen plek in ons lewens as gelowiges in Jesus die Messias – nadat ons gered is – gehad het nie. Ek het dieselfde mening gehuldig ten opsigte van die trek van lootjies, byvoorbeeld om name in ‘n hoed te gooi en één te trek. Menige kind het al hierdie metode gebruik om te bepaal wie se beurt dit is om die kombuisafval te verwyder of die gesinsmotor te was ens. Toe ek van hierdie metodes gebruik gemaak het, het ek dit aan geluk toegeskryf, wat hoegenaamd nie bestaan by mense wat glo dat die Here in totale beheer van hul lewens is nie. Dit is dus te verstaan dat ek, na my wedergeboorte, sulke praktyke verwerp het omdat ek tot die gevolgtrekking gekom het dat daar in God se koninkryksgemeenskap geen plek daarvoor is nie. Soos ek nou die Skrif verstaan, besef ek dat daar nie iets soos geluk bestaan nie en die trek van lootjies geen betrekking het op toeval of geluk nie maar wel dat die uitslag geheel–en-al by God berus. 

Die besef dat daar niks soos geluk of toeval bestaan nie nie, is ‘n verstommende openbaring. In my geval, het dit inderdaad lig gewerp op vele dinge wat met my gebeur het, wat ek telkens aan geluk, die gebrek daaraan of toeval toegeskryf het. Dit het beteken dat al die onaangename pligte wat ek teen wil en dank tuis moes verrig, wanneer my broers die lootjie gewen het, al die swak spanne waarin ek beland het toe my naam uit die hoed getrek is, al die weddenskappe met munte, wat ek verloor het, al die ongelukke en rampe wat ek moes verduur – ja dit alles en veel meer, wat ek destyds aan toeval of geluk toegeskryf het, was eintlik maar die wil van God en Sy hand wat in my lewe aan die werk was. 

Spreuke / Mishlei {16:33} “In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.” 

Nou besef ek terdeë dat al my kommentaar oor die vooronderstelling dat geluk nou ten ene male nie aan my kant was nie, toe ongunstige dinge met my gebeur het, in werklikheid die beskikking van God was. Hy was besig om aan die deur van my hart te klop en Hy het gesê: “ Maak jou hart oop en laat My in. Hou op om dinge op jou manier te doen. Laat jou lewe aan My oor.” 

Sedert my jeug en selfs tot in my veertiger jare, het ek my baie min aan God gesteur. Soos alle ander mense wat ek geken het, het ek geglo dat karma, geluk en toeval my lewe beheer het; trouens, met tye het ek gevoel dat as ek nie ongeluk ervaar nie, was geluk as sulks nie vir my beskore nie. Normaalweg sou ‘n mens selfs kwaad geword het by die besef dat dit God was wat al die teëspoed bewerk het, maar nie ek nie. In my geval was die teenoorgestelde waar. Ek het gevoel ek word geseën, geseën om te besef dat die God van die hele wêreld besig was om my lewe oor die jare heen te lei om my by ‘n punt van berou te bring en Jesus die Messias as my Heer en Redder aan te neem. Dit ontstel my egter wanneer ek sien of verneem van ongelowiges wat hul lewens as’t ware vermors het en hoe negatief hulle hul lewens bejeën. Hierdie mense is nog vasgeval in die karma-,toevals- en geluksgewoonte, terwyl hulle steeds hoop om eendag die lotery te wen of ‘n mate van goeie geluk in hul lewe te kan geniet. Ek hoop van harte dat wanneer hulle hierdie kommentaar lees en besef dat daar niks soos karma, toeval en geluk bestaan nie hulle nie vir God sal kwaad word nie. Inteendeel, ek hoop hulle kom tot die besef dat hulle hul verstande en houdings moet verander na één van ‘n diepe besef dat hul geloof daarvan afhang of hulle God gehoorsaam en dien. 

“Shema Yisrael, Ad-ni, El-hanu, Ad-ni echad”. “Hoor O Israel, die Here ons God, die Here is Een.”. 

Jesaja {57:21} “Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie! ”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking