1 Oktober 2011 / Tishri 3 5771
Luister / Ha’Azinu
Deuteronomium / Devarim {32:1} “Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. {32:2} Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. {32:3} Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! {32:4} Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.”
Daar is soveel om te sê aangaande slegs hierdie vier verse; trouens ek reken dat volumes geskryf sou kon word indien ek oor elkeen van die verse van hierdie lied kommentaar moes lewer. Dit is ‘n lied wat Moses vir die kinders van Israel geleer het. In die laaste vers van verlede week se parasha is ons meegedeel:
Deuteronomium / Devarim {31:30} “Toe het Moses voor die ore van die hele vergadering van Israel die woorde van hierdie lied tot die einde toe uitgespreek.”
Waarom dan ‘n lied? Ek het al dikwels daaroor gewonder. Die rede, daarvoor is ek seker, is omdat liedere ‘n samelewing so dramaties kan beïnvloed. Dit is maklik om te onderskei tussen die musiek waaraan ons ouers gewoond was en die musiek waarmee ons grootgeword het. So is daar sommige radiostasies wat musiek uit die vyftiger jare speel en ander weer musiek uit die sewentiger – of tagtiger jare. Dit klink egter alles verskillend. Wanneer ons dink aan Frank Sinatra of die “Motown”-klank, dink ‘n mens onwillekeurig aan twee verskillende en bepaalde tye in die geskiedenis. Ja, liedere het ongetwyfeld ‘n vername invloed op die samelewing. Andrew Fletcher, ‘n Skotse politikus, het by geleentheid gesê: “Laat my toe om die liedere van ‘n nasie te skryf; dit traak my nie wie die wette skryf nie”, en ek moet erken dat ek heelhartig saamstem! Kyk na ons hedendaagse samelewing; die musiek waarna geluister word en die wyse waarop die samelewing daardeur beïnvloed word, is blatant voor die hand liggend. Indien musiek ‘n maatstaf van ‘n samelewing is, is ons gewis sleg daaraan toe.
Met die aanvangsvers van hierdie parasha, verduidelik God aan die nuwe geslag van die kinders van Israel die voorwaardes wat Hy gestel het vir wanneer hulle die Land binnegaan. Dit is basies waaroor hierdie hele parasha handel. Indien die kinders van Israel die gebooie van God, soos in Sy Tora saamgevat, gehoorsaam, dan sal Hy ‘n skans rondom hulle wees en ‘n hulp in tye van moelikheid. Hy sal vir hulle sorg soos ‘n arend sy kleintjies versorg. Hy sal sorg dat die land groot genoeg is vir hulle en Hy sal hulle ondersteun. Dit was egter alles onderhewig daaraan dat hulle Sy gebooie onderhou. Net ingeval hulle enigsins daaroor getwyfel het, het God hulle beveel om te dink aan die vorige geslagte, naamlik hoe Hy vir hulle gesorg en voorsien het totdat hulle aan Hom gehoorsaam geraak het en Sy wraak in plaas van seëninge moes verduur.
Deuteronomium / Devarim {32:15} ” Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop—jy het vet geword, dik geword, spekvet geword—en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.”
Jesúrun is ‘n ander benaming vir Israel. Ek weet nie of Moses hier geprofeteer het nie, maar dit is presies wat met Israel gebeur het voordat God die Assiriërs gestuur het om die Noordelike Ryk te vernietig en in ballingskap weggevoer het en die Babiloniërs om die Suidelike Ryk te vernietig en in ballingskap weg te voer. Dit is interessant dat Jesaja die presiese openingswoorde met sy profesie oor die dreigende ballingskap van Israel uit die Land, gebruik het. Dit was sewehonderd jaar nadat Moses hierdie woorde gebesig het, alvorens Israel die Land sou binnegaan.
Jesaja / Yeshayahu {1:1} “Die gesig van Jesaja, die seun van Amos, wat hy gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem, in die dae van Ussía, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda. {1:2} Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die HERE spreek: Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree.”
Hierdie profetiese lied kan maklik op ons eie lewens toegepas word. Ek vertrou dat jy dit op joune sal toepas en daaruit sal leer sodat God jou nie ook in ballingskap laat wegvoer nie.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking