Saterdag 15 Oktober 2011

Tabernakels – Succot

D’Var Torah 
Tabernakels – Succot 

Aangesien die Sabbat hierdie week op die eerste intermediêre dag van Succot val, is daar ‘n spesiale Tora-voorlesing, soos hierbo aangedui. Die enigste Skrifgedeelte uit hierdie deel van die Tora, wat op ‘n aanduiding van Succot betrekking het, is die volgende. 

Eksodus / Shemot{ 34:22} “Die fees van die weke moet jy ook hou, die fees van die eerstelinge van die koring-oes; en die fees van die insameling by die wisseling van die jaar. {34:26} Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van die HERE jou God bring.”. 

Daar is egter ook ander toepaslike verse wat met sekerheid op die betekenis en oogmerke van die Fees van Succot dui. Ek het dus die volgende verse gekies om my kommentaar oor te lewer: 

Eksodus / Shemot {33:12} “Toe het Moses met die HERE gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar U laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind. {33:13} As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is. {33:14} En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?”. 

Die Fees van Succot handel in hoofsaak oor die teenwoordigheid van God by Sy volk. Die hele beginsel van Succot – om in skamele skuilings te woon – verteenwoordig die rus, waarna in vers 14 hierbo verwys word. Om in God rus te vind, beteken om nie bevrees te wees nie, wat beslis vandag nie die geval is nie. Ons leef tans in ‘n samelewing wat behep is met sekuriteit en dít met goeie rede. Niemand voel veilig nie, misdaad neem steeds toe en in die lig van die ongunstige ekonomiese tye, vier diefstal en inbrake toenemend hoogty. Gevolglik, in plaas daarvan om in skamele skuilings te woon soos wat die geval wel sal wees met die wederkoms van Jesus die Messias, woon ons feitlik in vestings met veelvuldige slotte, alarmstelsels en omring deur elektroniese bewakingstoerusting. 

Wat ‘n pragtige wêreld sal dit nie wees nie wanneer God se teenwoordigheid met ons sal wees en ons in vrede, sekuriteit en in God se rus kan lewe. Dit is die essensie van Succot, wat ons verwag en na uitsien telkens wanneer ons hierdie fees vier en tyd in ‘n Succot (skamele skuiling) deurbring, waar ons deur die opbrengs van die land omring is en die sterrehemel bokant ons het. 

Miga / Mikhah {4:1} “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. {4:2} En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. {4:3} En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. {4:4} Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking