D’Var
Torah
Oordele
– Mishpatim
Eksodus / Shemot {23:1} “Jy mag geen valse gerug
rondstrooi nie. Verbind jou nie met die skuldige om ‘n kwaadwillige getuie te
wees nie. ”.
Ek
verwys ons graag na ‘n gedeelte van die Skrif uit verlede week se parasha:
Eksodus / Shemot {20:16} “Jy mag geen valse
getuienis teen jou naaste spreek nie. ”.
Die
woord “vals” kan ook vertaal word as “verwaandheid” of “leeg”. Deur valse
getuie af te lê, ongeag die motief daaragter, word bedoel om ‘n ander persoon
deur dit wat gesê word of iets te doen, sonder grondige bewys of rede daarvoor,
te beskuldig. Volgens die Bybel, moet getuies oor persoonlike, eerstehandse en
regstreekse kennis oor die feit beskik, andersins kan hulle nie getuies wees
nie. Dit bring ons by die onderwerp van kwaadspraak wat in die kategorie van
verwaandheid of leë woorde val.
Kom ons
kyk allereers wat onder die woord “kwaadspraak” (skinder) verstaan word. In die
eerste plek is dit eenvoudig om te praat van iemand wat nie teenwoordig is nie
wanneer inligting oor so ’n persoon oorgedra word, of dit nou waar is aldan
nie. Ons bedoel nie altyd doelbewus om gemeen te wees wanneer ons iets van ‘n
ander kwytraak nie; trouens meesal probeer ons slegs om waardevolle inligting
deur te gee, wat nuttig mag wees om so ’n iemand te help. Kwaadspraak gaan
egter nie bloot oor motief nie – dit kan ook “onbedoelde gevolge” inhou. Indien
‘n persoon benadeel word of ‘n ander persoon se opinie oor iemand anders
negatief beïnvloed word deur wat ons van hom / haar sê, het ons hulle te na
gekom en dít is kwaadspraak. Ons het met ander woorde sonder deernis iets van
iemand gedeel of gesê en dit is onvanpas: dít is om kwaad te spreek.
Daar
is minstens vier tipes kwaadspraak, wat
ek graag wil behandel:
Die
eerste is “gebabbel”. Dit is die tipe van kwaadspraak wat moontlik soos volg
lui: “Het jy verneem dat so-en-so gaan verhuis?” Hierdie tipe storie betref
altyd basiese inligting en is dikwels sonder skadelike gevolge. Dit bly egter
‘n gevaarlike element en ons moet versigtig wees met welke inligting ons aan
ander meedeel omdat dit moontlik tot ernstige kwaadspraak kan lei.
Tweedens
is daar “gebed”. Hierdie tipe kwaadspraak word heel onskuldig in ‘n gebed of
gebedsversoek gemeld, maar mag miskien aangeleenthede oor iemand onthul wat tot
kwaadspraak kan lei. Indien ons bid of vra vir gebed vir iemand wat nie
teenwoordig is nie, moet ons vermy om die betrokkene openlik te identifiseer en
uiters versigtig wees met hoe ons die gebed fraseer. Gebed is allereers daarop
gemik om ons verhoudings met God te bou en ander mense op te hef om Sy
koningkryk te bevorder. Derhalwe is die doel van gebed hoegenaamd nie om
inligting te deel waarvan ander beslis nie hoef te weet nie. Ons moet dus
persoonlike besonderhede ten alle koste vermy tensy die betrokkene oor wie dit
gaan, toestemming daartoe verleen het om dit met ander te deel. Ons moet verder
daarteen waak om nie net voldoende inligting te verstrek wat die indruk mag
laat van: “Laat ons bid vir so-en-so wat aanhoudend hulle werk verloor nie” –
dit is kwaadspraak. Dit sou beter gewees het om te sê: “so-en-so soek werk –
laat ons vir hulle bid.”. Dit sou selfs beter wees, om na die betrokkenes te
gaan om hulle te bemoedig en privaat saam met hulle te bid.
Derdens,
is “nuusberigte” – ‘n tipe kwaadspraak wat inligting deel, wat mense moontlik
daartoe mag lei om hul optrede of oordeel oor ‘n ander persoon te baseer op dit
wat ons met hulle gedeel het. Opmerkings soos: “Het julle gehoor dat so-en-so
se ouers weer rusiemaak?” of “So-en-so verkeer in ‘n slegte bui en dit is
raadsaam om hulle te vermy.”.
Daar is
maar ‘n geringe onderskeid tussen kwaadspraak en opbouende kritiek.
Eersgenoemde gee aanleiding tot die eskalasie van ‘n probleem; dit neig tot
subjektiwiteit, veroorsaak verdeeldheid onder mense en is nie gegrond op
eerstehandse toestemming om sodanige inligting te verstrek nie. Let wel: ek sê
toestemming tot sodanige inligting. Ons behoort vooraf toestemming te verkry
alvorens ons enigiets aangaande ‘n ander persoon verstrek. Opbouende geselskap
het ten doel om ‘n persoon op te hef en laat groei asook verbetering aan te
moedig; dit is objektief, gegrond op feite en word met die nodige toestemming
gedeel ten einde positiewe verandering mee te bring.
In die
vierde plek is daar beswaddering (laster). Hierdie tipe van kwaadspraak is om
iets te vertel of herhaal wat moontlik waar of onwaar is. Heel dikwels doen
mense dit om hulleself te verhef deur die betrokkene te verneder. Laster
impliseer dikwels ‘n gerug oor mense wat nie altyd op feite gegrond is nie. Dit
kan ook aanmatigend wees om iemand se voornemens te bevraagteken, terwyl
persoonlike innerlike voornemens slegs aan God bekend is.
Die
satan beoog verdeeldheid tussen gelowiges en besef dat hy oneindige skade deur
die ongebreidelde gebruik van die tong kan teweegbring. Hy hoef ons nie dood of
slegs siek te maak nie: al wat hy hoef te doen is om ons kwaadwilliglik van
ander te laat praat in hulle afwesigheid. Daardeur sal hy daarin slaag om die
eenheid, waarvoor Jesus die Messias Sy bloed uitgestort het om juis dít te
koop, vernietig.
Ons kan
gewoonlik onderskei wanneer iets wat ons verneem, op kwaadspraak sal uitloop
indien die gesprek met “Net tussen jou en my…” begin. Dit behoort die
waarskuwingsteken te wees dat dit wat jy gaan verneem, jou verstand gaan
vergiftig ten opsigte van iemand wat nie dáár is om hom -/ haarself te verdedig
nie. Of ons mag moontlik hoor: “Ek vertel jou dit omdat jy dit behoort te
weet,” of “”Ek deel dit met jou omdat ek diep besorg is oor die situasie.”.
Daardie persoon mag jou iets vertel wat op die waarheid gegrond is, maar jy
uiteindelik uitgelok sal word tot ‘n kritiese evaluasie van die persoon ter
sprake en dit is onmiskenbaar kwaadspraak.
Voordat
jy ‘n storie herhaal, vra jouself die volgende vrae af: Is dit waar en indien
wel, onskadelik? Selfs indien dit onskadelik blyk te wees, is dit inspirerend?
Indien wel inspirerend, is dit werklik nodig? Indien werklik nodig, is dit
welmenend en indien wel, is die betrokkene teenwoordig om te hoor wat jy van
hom / haar sê, sodat hulle kommentaar daarop kan lewer en hulself desnoods
verdedig? Sou die antwoord op hierdie vrae telkens “nee” wees, moet dit dan nie
met ander deel of herhaal nie, want dit is kwaadspraak!
Speuke / Mishlei {11:13} “Die wat met
kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van
gees, bedek ‘n saak. ”.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking