Donderdag 07 Januarie 2016

Die Betekenis van die Regterhand

En Hy Het Gelewe / VaYechi 

Genesis / BeReshit 47:28-50:26
1 Konings / Melachim Aleph 2:1-12
1 Petrus / Kefa Aleph 1:1-9

Genesis / Bereshit {48:11} “En Israel sê vir Josef: Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien. {48:12} Daarop laat Josef hulle van sy knieë af weggaan, en hy buig hom met sy aangesig na die aarde toe. {48:13} En Josef neem hulle twee Efraim met sy regterhand, links van Israel, en Manasse met sy linkerhand, regs van Israel en hy bring hulle by hom. {48:14} Toe steek Israel sy regterhand uit en lê dit op die hoof van Efraim, hoewel hy die jongste was, en sy linkerhand op die hoof van Manasse: hy het sy hande oorkruis gehou, want Manasse was die eersgeborene. {48:15} En hy het Josef geseën en gesê: Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe, {48:16} die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het—mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte. {48:17} Toe Josef sien dat sy vader sy regterhand op die hoof van Efraim gelê het, was dit verkeerd in sy oë; en hy het die hand van sy vader gegryp om dit van die hoof van Efraim op die hoof van Manasse oor te bring. {48:18} En Josef sê aan sy vader: Nie so nie, my vader; want hierdie een is die eersgeborene: lê u regterhand op sy hoof.”

Wat is dan so belangrik aangaande die regterhand dat Josef so ongesteld geraak het toe sy vader sy linkerhand op die oudste seun, Manasse, geplaas het? Ek meen dat die antwoord geleë is in die gebed wat Israel oor sy seun, Josef, gebid het.

Genesis / Bereshit {48:15} “En hy het Josef geseën en gesê: Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe, {48:16} die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het—mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte.

Oral in die Skrif waar ek gesoek het na enigiets oor God wat iets gedoen het, word daarna verwys as volbring deur Sy regterhand, byvoorbeeld:

Jesaja / Yeshayahu {48:13} Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.

God het die aarde met sy regterhand geskep en, alhoewel ons weet dat die uitdrukking: "My regterhand" hier en elders as 'n metafoor gebruik word, vra 'n mens jouself af of dit blote toeval is dat die aarde in regsom rotasie beweeg? Trouens, al die planete in ons sonnestelsel wentel na regs om die son, net soos selfs die maan na regs roteer om die aarde. Wat is dus so betekenisvol in verband met die regterhand?

Jesaja / Yeshayahu {62:8} Die HERE het gesweer by sy regterhand en by sy magtige arm,….
Psalm / Tehillim {118:15} ‘n Stem van gejubel en van heil is in die tente van die regverdiges: die regterhand van die HERE doen kragtige dade. {118:16} Die regterhand van die HERE verhef; die regterhand van die HERE doen kragtige dade.
Efesiërs {1:19} en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte {1:20} wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, {1:21} bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.

Die voorafgaande Skrifgedeeltes is slegs enkele voorbeelde aangaande die regterhand van God, maar, mees betekenisvol, is die laaste voorbeeld (hierbo) van die regterhand van God, wat verwys na 'n plek van eer of gesag. Histories en Bybels, het 'n persoon van hoë stand, wat iemand aan sy regterhand geplaas het, aan so 'n iemand eer en gesag verleen en is hulle waardigheid erken. Hier sien ons inderdaad dat die Vader Jesus verhoog het bo alle ander, deur Hom aan sy Regterhand te laat sit.

Die term "God se regterhand", waar dit op 'n profesie betrekking het, verwys altyd na die Messias, aan Wie die mag en gesag gegee is, om Sy vyande te onderdruk, soos ons in Psalm 118:16 (hierb aangehaal) gesien het.

Matthéüs / Mattityahu {22:42} “en sê: Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s’n. {22:43} Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê: {22:44} Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?”

In vers 44 hierbo, haal Mattheüs aan uit Psalm 110:1, wat 'n messiaanse Psalm is. Verder, in hierdie gedeelte uit Mattheüs ondervra Jesus die Fariseërs oor wie hulle meen die Messias is.
Matthéüs / Mattityahu {22:45} ”As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun?”

Uit die Skrif weet ons dat die plek van die Messias, aan God se regterhand is. Die feit dat Jesus die Messias aan die "regterhand van God" was, was 'n teken aan Sy dissipels dat Jesus die Messias was en inderdaad opgevaar het na die hemel. Jesus het vir sy dissipels gesê dat Hy moes weggaan en die Heilige Gees in Sy plek na hulle sou stuur. Dus was die uitstorting van die Heilige Gees in die bovertrek op Pinksterdag beslis bewys dat Jesus werklikwaar in die hemel was en gesit het aan die regterhand van God die Vader. Dit word bevestig in Romeiene {8:34}, waar die apostel Paulus skrywe dat die Messias aan die regterhand van God is en vir ons intree. Wat ons dus kan sê, is dat "God se regterhand" verwys na die Messias, wat ons nou weet, Jesus is.

Na wie het Israel dan verwys toe hy sy gebed oor sy seun, Josef, gebid het terwyl sy regterhand op Efraim was?

Engele beskik immers nie oor die vermoë om te seën nie! Daarom, is sowel ek as meeste kommentators dit eens oor dié gebed, dat hierdie engel 'n voor-vergestaltings-manifestasie van Jesus die Messias se hand was. Dit is om hierdie rede dat Jakob sy regterhand op Efraim se hoof geplaas het, wat die vernaamste van Josef se twee seuns sou word.

Die betekenis, begrip en kennis van die regterhand van God dateer terug na die aanbreek van tyd, moontlik omdat die aarde deur Jesus die Messias, die Woord van God en die profetiese regterhand van God geskep is. Daarom het die regterhand altyd besondere betekenis in sowel die Heilige Skrif as in uiteenlopende kulture dwars deur die geskiedenis, hetsy heidens of goddelik. Vandaar dat Jakob sy regterhand op Efraim geplaas het. Die satan versterk ook die betekenis van die regterhand en wel om die regterhand vir homself toe te eien:

Openbaring {13:16} “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; {13:17} sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.”

Die satan het nog altyd en is steeds besig om God se gesag, Sy Regterhand, wedererregtelik vir homself toe te eien. Genadiglik ken ons die einde van die Boek en hy delf die onderspit!

Congregation Melech Yisrael Alle regte voorbehou

Voorheen gepubliseer: 10 Januarie 2009

PDF version


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking