Saterdag 23 Januarie 2016

God het hulle deeglik onder Sy beheer

Beshalach
(Dit het gebeur)


Eksodus / Bereshit {14:1} “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {14:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet omdraai en laer opslaan voor Pi-Hágirot, tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon moet julle laer opslaan by die see. {14:3} Dan sal Farao van die kinders van Israel sê: Hulle is verdwaal in die land, die woestyn het hulle ingesluit. {14:4} En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg; en Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is. En hulle het so gedoen.”

Dis 'n baie interessante Skrifgedeelte, veral as jy daarna kyk in die lig van ons moderne tye. Israel het reeds 'n redelike afstand van sy vorige onderdrukkers gereis en was goed onderweg na hul vryheid. In plaas daarvan om hulle toe te laat om na hul bestemming voort te gaan, het God hulle egter laat omdraai en, soos ons gelees het, het Hy dit gedoen spesifiek om die farao in versoeking te bring. God wou die farao onder die indruk bring dat die kinders van Israel in die woestyn verdwaal het sodat hy hulle kon aanval.

So dwaas soos dit wil voorkom, was dit natuurlik 'n uitstekende strategie omdat, soos ons weet, God die farao se eie hoogmoed gebruik het om hom en sy leërmag te vernietig en sodoende die kinders van Israel as Sy eie kosbare besitting te verkry. Daar word egter op iets interessants gesinspeel in hierdie gedeelte.

Ek het dit baie interessant gevind, dat, terwyl daar geen spioenasie-satelliete in die tyd van die kinders van Israel se vlug uit Egipte was nie; daar geen selfone of faksmasjiene was nie, die farao gewéét het dat die kinders van Israel omgedraai het; hoe sy hy dié kennis kon gehad het om te vermoed dat hulle in die woestyn verdwaal het? Die enigste moontlikheid hoedat die nuus die farao bereik het, was deur middel van spioene. Die farao moes óf spioene in die gedeelte van Israel gehad het toe hulle deur die woestyn getrek het óf spioene wat hulle op 'n afstand gevolg het om te sien wat hulle doen en waarheen hulle gaan. Hoe dit ookal sy, dit het gebeur, volgens die aangehaalde Skrifgedeelte, dat God die hele aangeleentheid georkestreer het. God het verseker dat die farao ingelig sou word oor die Hebreërs se omstandighede, vordering en elke beweging.
Waarom sou dié wete dat daar spioene in die kinders van Israel se laer was, vir ons van enige belang wees? Waarom sou ons selfs tweemaal daaraan dink? Dit het betekenis omdat ons verskeie male gewaarsku word in die Skrif, in sowel die Ou Testament as die Hernieude Verbond, dat daar altyd spioene onder Gods volk sal wees. Hieronder is 'n voorbeeld uit die Ou Testament: 

Prediker / Kohelet {10:20} “Vloek die koning selfs in jou gedagte nie, en vloek in jou slaapkamer die ryke nie; want die voëls van die hemel sou die geluid kon wegvoer, en die gevleueldes die woord te kenne gee.”

Hierin word gesê dat selfs die mure ore het. 'n Goeie voorbeeld van spioene wat altyd onder gelowiges is, verskyn in die Hernieude Verbond en wel in die gelykenis van die onkruid (Matthéüs 13:25-30).

Ons sien dus dat die satan altyd sy spioene sal versprei deur - en onder die kinders van God. Wat ek graag wil hê ons moet almal verstaan, is dat God hulle altyd vir Sy eie doel sal gebruik, netsoos Hy die spioene, wat aan die farao gaan verslag doen het, vir Sy eie doel gebruik het.

Versprei deur ons lewens en dwarsdeur ons gemeentes, sal daar altyd spioene wees wat elke beweging van ons aan die duiwel rapporteer, maar moenie vrees nie, want God het hulle deeglik onder Sy beheer!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-02-07

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking