D’Var Torah
Name / Shemot
Eksodus / Shemot {1:1} “En dit is die name van
die seuns van Israel wat in Egipte gekom het; saam met Jakob het hulle gekom,
elkeen met sy huisgesin: {1:2} Ruben,
Símeon, Levi en Juda; {1:3} Issaskar,
Sébulon en Benjamin; {1:4} Dan en
Náftali, Gad en Aser. {1:5} En al die
siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele. Maar Josef was
in Egipte. ”.
Dit was vir my interessant dat hierdie Skrifgedeelte tyd ingeruim het om
die name van al elf seuns (stamme) wat in Egipte aangekom het, te vermeld
(Josef was alreeds daar). Volgens die Skrifgedeeltes het elke man en sy
huishouding Jakob vergesel. Dink jy God wou ons laat vermoed dat niemand
agtergebly het nie? Ek dink so! Die rede was dat ten einde ‘n familie in staat
te stel om voorspoedig te wees en te oorleef, moes hulle bymekaar bly. Die
kinders van Israel was onderweg na Egipte en nie soos wat hulle gedink het, om
die droogte in die land Kanaän vry te spring nie, maar om slegs in Egipte te
vertoef totdat omstandighede tuis sou verbeter. God het egter bedoel dat die
kinders van Israel ‘n nasie in Egipte sou word. Indien die familie geskei sou
word deurdat een van die stamme sou besluit het om in Kanaän agter te bly, of
een van die seuns sou besluit het om na ‘n ander land in plaas van Egipte te
gaan, wat sou van die toekoms van die nasie Israel geword het? Ek veronderstel
dat dit dan onmoontlik sou gewees het om in ‘n nasie te ontwikkel, soos wat die
geval wel was.
Beskou my gerus as ouderwets – baie van julle mag moontlik nie met my
saamstem nie – maar hierdie soort familie-samehang en lojaliteit word vandag
nie meer aangetref nie. In die verlede het families nooit ver van mekaar af
weggetrek nie. Ouers het hulle kinders grootgemaak terwyl hulle in dieselfde
area gewoon het en soms in dieselfde huis as die grootouers.
Wat ‘n besondere voorreg was dit nie! Grootouers en ouers het deel gehad
aan die grootmaak van kinders / kleinkinders. Die geslagte kon saam op mekaar
reageer en hegte familiebande met mekaar vorm. Daarbenewens was dit nie nodig
om bejaarde ouers in aftree-oorde of verpleeginrigtings te laat plaas om hulle
aan die genade van vreemdelinge en versorgers oor te laat nie; trouens, hulle
sou in die gesinswoning deur die gesin versorg word.
Ongelukkig is dit vandag anders. Dit is by uitsondering dat ‘n mens nog
‘n uitgebreide familie aantref, wat in dieselfde huis of selfs dieselfde stad
of land woon. Meeste kleinkinders word tans groot sonder ‘n persoonlike
verhouding met hul grootouers – in plaas daarvan, het hulle ‘n “Skype“-,
“Facebook”- of e-posverhouding met hulle.
Elektroniese media bevorder nie hegte familiebande nie, maar skep eerder
verhoudings wat meganies en gediskonnekteerd is. Kinders en kleinkinders kom
selde persoonlik in aanraking met ouers en grootouers – hulle raak vervreemd en
daar is geen sterk familieverband nie.
Geen wonder dat kinders die versorging tot hulle dood van hulle bejaarde
ouers aan vreemdelinge oorlaat nie. Langdurige skeiding van mekaar, het hulle
harte verhard.
Ouers en grootouers het eerder ‘n las geword in plaas daarvan om kosbaar
te wees, soos dit hoort. Pleks daarvan dat afwesigheid hulle harte met verlange
vul, gebeur die teenoorgestelde: verpleeginrigtings is gevul met eensame ou
mense, wie se kleinkinders vir hulle vreemdelinge is en wie se kinders hulle
selde besoek. Ek erken dat ek van my ouers af weggetrek het, maar soos Abraham
(ek vergelyk my hoegenaamd nie met hom nie), is ek deur God geroep om my
familie te verlaat. My eggenote en ek is agtien jaar gelede geroep om na Kanada
te verhuis. God het vir my ‘n deur geopen om die betrekking van geestelike
leier van hierdie gemeente te aanvaar . Dit was nie vir ons maklik om te gaan
nie, maar ons albei het besef dat ‘n saak van die Here is en ofskoon ons bra onwillig
was, móés ons gaan.
Matthéüs
/ Mattityahu {10:37} “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie;
en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. {10:38} En wie sy kruis nie neem en agter My volg
nie, is My nie waardig nie.”.
Oor die algemeen is ons geval egter die uitsondering. Die meerendeel
familielede wat van hulle ouers wegtrek is nie omdat God hulle tot die
bediening geroep het nie. Dit is eerder ‘n geval van selfsug dat hulle wegtrek,
om hulle eie begeertes te bevredig, omdat hulle ‘n beter betrekking of warmer
klimaat of nuwe geleenthede verlang óf bloot omrede hulle net wil wegkom.
Ja, beskou my gerus ouderwets, maar dít is nie hoe dit behoort te wees
nie!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking