Woensdag 25 Desember 2013

Terug na Egipte

D’Var Torah
Wanneer Hy laat gaan – Beshallach


Eksodus / Shemot {14:9} “En die Egiptenaars het hulle agtervolg—al Farao se perde en strydwaens, sy ruiters en sy leërmag—en hulle ingehaal terwyl hulle in die laer gestaan het by die see by Pi-Hágirot, voor Baäl-Sefon. {14:10}  Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die HERE geroep. {14:11}  En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het? {14:12}  Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.

Dit is verbasend dat niks oor die afgelope 5000 jaar verander het nie! Mense verkies steeds om slawe te wees (hoe dit ookal sy, van sonde) eerder as om vry te wees in Jesus die Messias. Die kinders van Israel het verkies om slawe in Egipte te wees, eerder as om vry in Eretz (die land van Israel) te wees. Waarom? Want vryheid sou beteken dat hulle verantwoordelikheid vir hulself sou moes aanvaar. Hulle sou vir hulself moes dink, redeneer, op hul eie besluite neem en vir daardie besluite persoonlike aanspreeklikheid aanvaar.

Ek het onlangs na ‘n dokumentêre program oor soldate gekyk, wat na jare diens in die weermag, met hul ontslag, nie kon aanpas by die burgerlike samelewing nie. Die rede? Vir jare was hulle onderworpe aan streng reëls en regulasies. Hulle het ontwaak wanneer hulle aangesê is om dit te doen, geëet wanneer hulle moes eet, gegaan waarheen en waar hulle aangesê is om te gaan en gedoen wat hulle beveel is om te doen. Terug in die burgerlike samelewing was daar niemand om vir hulle te sê wat om te doen nie, met die gevolg dat hulle verlore gevoel het. Die jare wat hulle in die weermag deurgebring het, het gelei tot ‘n verlies van vermoë om hulle eie besluite te neem. Hulle het gevolglik verward geraak, aan hulle self getwyfel en in ernstige depressie verval. Dit was alles te wyte aan die feit dat hulle nooit hul eie besluite geneem, hul eie lewens gely het nie: alles is vir hulle bepaal, van die oomblik dat hulle ontwaak het totdat hulle gaan slaap het. Sommige soldate, wat in hierdie dokumentêr vertoon is, het vanweë hierdie drastiese verandering in hulle lewens, senuwee-ineenstortings en ander sielkundige – en sosiale probleme ondervind: probleme wat hulle ook gediskwalifiseer het om weer aan te sluit. Gevolglik kon hulle nie eers weer terugkeer na die lewenswyse waarin hulle gemaklik was nie.

Prediker / Kohelet {1:9} “Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.”.

Ongelukkig is dit wat vir die kinders van Israel in die wildernis waar was en waar is vir die oud-soldate, wat in die burgerlike samelewing ontplooi is insgelyks ook waar vir ongeredde mense aan wie die evangelie van waarheid aangebied word; die Goeie Nuus wat hulle sou vrymaak.

Soos voorheen gesê: Egipte is ‘n Bybelse sinnebeeld van ons huidige sondige lewe en – wêreld, waarin ons woon. Moses is die Bybelse sinnebeeld van Jesus die Messias, wat deur God gestuur is om Sy mense te red, hulle uit die slawerny van sonde en sondige wêreld te lei na God se wonderlike lig. Die tog deur die Rooisee is die Bybelse sinnebeeld van verlossing. Dit was op daardie punt waar die kinders van Israel hulle vertroue van die Farao (die Bybelse sinnebeeld van die satan) na Moses (die Bybelse sinnebeeld van Jesus) verplaas het, met ander woorde, hulle het van sonde na redding oorgegaan.

Vóór hulle tog deur die Rooisee en terwyl hulle nog in die satan se gebied was, het die kinders van Israel dit nie nodig geag om gered te word nie. Hulle was tevrede en het eintlik gevoel dat hulle beter af was in die slawerny.

Die situasie wat ek sopas beskryf het, is wat baie van ons met ongeredde geliefdes ervaar. Ek kan begryp hoe frustrerend dit vir Moses moes gewees het toe die vryheid wat God vir die kinders van Israel aangebied het, verwerp is ten gunste daarvan om na Egipte terug te keer. Dit is omdat ek dieselfde scenario ondervind – ofskoon onder verskillende omstandighede – met my familielede. Ek het hulle die lig aangebied wat ontstaan deur die kennis van Jesus maar hulle verkies die duisternis van die satan. Hulle is so deur hom verblind dat hulle eerder in sy sondeslawerny sal verkeer as om deur God bevry te word van die gevolge van hulle sonde.

Ek sluit aan by jou in gebed en betuig meegevoel met elkeen wat ervaar: “Ek wil terugkeer na Egipte” en die “Ek verkies om in slawerny te verkeer” – sindroom, wat jou dierbares betref. Bid asseblief saam met my vir my dierbares.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking